Luidens ’n verklaring van die polisie het twee onbekende mans die egpaar, mnr. Takayina (66) April en sy vrou, Nontembiso (56), se plaas betree en voorgegee dat hulle op soek is na skape.

“Terwyl die eienaar van die plaas gereageer het, het een van die verdagtes sy vuurwapen uitgehaal en begin skiet.”

Die egpaar is noodlottig gewond en die verdagtes het te voet gevlug.

“Dit is nie bekend wat die motief vir die moorde is nie. Aanduidings is dat dit nie ’n rooftog is nie aangesien niks uit die familiehuis geneem is nie,” luidens ’n gesamentlike verklaring van die landelike ontwikkelingsorganisasie, die Cala Universiteit-studentevereniging (Calusa), die Siyazakha-grond-en-ontwikkelingsforum en die Inyanda-beweging vir grond. 

“Al wat ons kan sê, is dat die Aprilfamilie en ander plaasbewoners betrokke was in ’n langdurige rusie oor hul regte op die grond waar hulle al dekades lank woon en waar hulle hul familie begrawe.”

Die egpaar, veral Nontembiso, was volgens die verklaring ywerige stryders vir grondregte.

Takayina April
Mnr. Takayina April. Foto: Verskaf
Nontembiso April
Me. Nontembiso April. Foto: Verskaf

“Mev. April was ’n formidabele aktivis in die geveg vir demokratiese bestuur en billike toegang tot grond vir almal reg oor Suid-Afrika. Sy en haar kollegas is slagoffers van die mislukte post-1994-grondhervormingsprogram waar plaasbewoners gemarginaliseer is en grond aan elite- swart boere gegee is wat vyandig is teenoor plaasbewoners en hulle voortdurend dreig met afsettings.”

Die April-egpaar is op hul plaas, Draaifontein, vermoor. Die plaas is deel van ’n groep plase waarna verwys word as die Beestekraal-plase in die munisipale distrik Sakhisizwe in die Oos-Kaap.

Die organisasies doen ’n beroep op die owerheid om nie net die moord te ondersoek nie, maar ook om beskerming te bied aan die oorblywende familielede en plaasbewoners wat ’n stryd voer vir hul grondregte.

Hulle vra ook die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming om die familielede en grondbewoners in soortgelyke omstandighede toegang te gee tot die grond wat hulle op die plaas gebruik.

Kol. Sibongile Soci, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, sê nog geen vordering is met die ondersoek gemaak nie.