Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê die droogteverklaring in die Staatskoerant belangrik, maar slegs die distriksmunisipaliteite wat reeds tot rampgebiede verklaar is, word deur die verklaring bevoordeel. Slegs die distriksmunisipaliteite Sarah Baartman en Amathole is amptelik tot droogtegebiede verklaar.

Die ander distriksmunisipaliteite wat droogtetoestande ervaar, sal eers deur ’n lang proses moet gaan om tot droogtegebiede verklaar te word voordat hulle ook voordeel kan trek.

Stern sê hy het die afgelope twee weke reg oor die provinsie gereis en die hele provinsie is droog. Hoewel verspreide buie onlangs geval het, was dit hoofsaaklik langs die kusgebiede. Die reën in die binneland het tot dusver bykans geen impak op die veld gehad nie. Daar is geen weiding op die veld oor nie en die provinsie is steeds in ’n benarde toestand. 

Lamtyd

Hy sê volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kantoor in Port Elizabeth word die eerste behoorlike reën in die provinsie eers teen middel Desember verwag.

“Dit is kommerwekkend, want dit is nou die tyd van die jaar wanneer boere se diere lam en kalf. Hulle het kos nodig, maar daar is nie natuurlike weiding nie. Die impak hiervan op die kontantvloei van boere is reusagtig. Boere sal hul diere moet voer om te verseker dat die kalwers en lammers die nodige voeding kry. Dit kos baie geld en boere het nie meer daardie geld nie.”

Stern sê Agri Oos-Kaap het onlangs die eerste keer met mnr. Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, en me. Nomakhosazana Meth, die Oos-Kaapse LUR van landelike ontwikkeling en grondhervorming, vergader ná maande se pogings om ’n vergadering te reël.

Hy sê dit is bemoedigend dat daar uiteindelik kommunikasie is en hy glo dit het ’n impak gehad op die besluit om die provinsie tot droogtegebied te verklaar.