Me. Nomakhosazana Meth, Oos-Kaapse LUR vir landbou-ontwikkeling en landelike hervorming, het Maandag in die provinsiale wetgewer aangekondig dat die departement sy begroting gewysig het om dadelik die geld beskikbaar te stel.

Die geld is hoofsaaklik vir veevoer, met die distriksmunisipaliteit Sarah Baartman wat ook mielies sal kry. Boere het egter net tot 15 November kans om die nodige dokumentasie in te handig om aansoek te doen vir hulp. 

Die provinsie raam dat die finansiële verlies aan lewendehaweproduksie ongeveer R6,4 miljard beloop, en dat dit drie jaar sal kos om te herstel.

Mnr. Ayongezwa Lungisa, Meth se woordvoerder, sê droogte-aanduiders, gegrond op reënval, plantegroei, weiding en wateraanbod, wys dat minstens die helfte van die provinsie tans middelmatige tot uiters droë toestande ervaar. Veral die westelike helfte van die provinsie loop swaar deur. Kommersiële én kleinboere loop deur, en ekstensiewe weidingsgebiede word die meeste geraak.

Werksverliese is volgens die departement in dié stadium nog minimaal. Besproeiingsgebiede word minder geraak, met geen beduidende afleggings wat plaasgevind het nie. Die tekort aan reën beteken wel dat die somerplantseisoen vir gesaaides reeds geraak is.

Verheug

“Ek is baie beïndruk daarmee dat die provinsiale regering bereid is om na ons te luister en ons by te staan. Dit is baie bemoedigend,” sê mnr. Doug Stern, die voorsitter van Agri Oos-Kaap, in reaksie op dié aankondiging.

Hy glo dié ingryping volg onder meer nadat Agri Oos-Kaap ongeveer ’n maand gelede ’n vergadering met die departement belê het. Hy sê in die verlede was dit nie eens moontlik om ’n spreekbeurt by die provinsiale leiers te kry nie. Nou is hul gesprekke met mekaar oor die dilemma wat die landbou in die provinsie in die gesig staar en dat dié leiers nou hul verantwoordelikhede nakom. 

Verspreiding

Die distriksmunisipaliteite Sarah Baartman, Amathole, Chris Hani en Joe Gqabi is reeds tot rampgebiede verklaar, met die hele provinsie wat einde Oktober tot rampgebied verklaar is. 

Die R74 miljoen se veevoer sal tussen die provinsie se ses distriksmunisipaliteite verdeel word. Die distriksmunisipaliteit Amathole sal R27,6 miljoen kry, Chris Hani R22,2 miljoen, Sarah Baartman R14,7 miljoen, OR Thambo R5,3 miljoen, Joe Gqabi R2,1 miljoen en Alfred Nzo R2,06 miljoen.

Die departement het ook aansoek gedoen om bykomende ramphulp van die provinsiale en nasionale rampbestuursentrums.

Volgens die departement is plaaslike bestuurskomitees gestig om die droogtetoestande te assesseer. Die komitees sluit boere in. Daar is ook ’n provinsiale bestuurskomitee op die been gebring om die program te bestuur. Landbou-unies is daarby ingesluit.

Vorms

Boere moet die vereiste aansoekvorms vir die droogtehulp teen 15 November inhandig. Volgens Stern is dié proses verhaas. Agri Oos-Kaap gaan vra dat die aansoektydperk met 10 tot 14 dae verleng word aangesien die huidige inhandigingsdatum onrealisties vroeg is en sodat die aansoekproses vir alle boere toeganklik is.