“Dit is wonderlik, ons het ’n droë jaar gehad,” sê mnr. Daan du Plessis, ’n skaapboer van Kareedouw.

Hy het slegs 5 mm in Junie gemeet, en dit het gepaardgegaan met baie winde en bergwinde.

In die tweede week van Julie het hy 11 mm gemeet en in die derde week ongeveer 50 mm. “Ons is baie dankbaar. “Dit is baie goed vir die aangeplante weidings op die lande, soos hawer en raaigras. Dit is nou baie koud, dus sal die veld nie reageer nie, maar dit is voordelig vir die aangeplante weidings.”

Hy het vanjaar tot voor die huidige reën 190 mm gemeet, wat minder as die helfte vir die jaarlikse gemiddelde van 550 mm is. Ondergemiddelde reënval word sedert 2016 in die gebied gemeet.“Hierdie reën is wonderlik en sal ons deurtrek na die lente. Ons hoop op ’n mooi lente. Ons kusgebiede was abnormaal droog, maar hierdie reën is vir ons ’n groot redding en uitkoms.”Koue en vee

Du Plessis verwag die koue weer kan tot veeverliese lei, aangesien van sy ooie lam en van die tweelinge moontlik kon verkluim. “Op die ou end kyk jy egter na die voordele van die reën, wat baie meer is as die nadele van die nat en koue toestande.”

Volgens me Maizie Vermaak, ’n melkboer van Oesterbaai, is 65 mm sedert Woensdag gemeet. Sy sê dit reën steeds.

“Ons het baie reën in Mei gekry, maar glad nie in Junie en die eerste deel van Julie nie.”

Sy moes weer voer begin inkoop vir die melkbeeste omdat dit nou koud en nat is en die voergewasse eers oor ’n rukkie sal begin groei. “Die vooruitsigte is darem daar.”

By Elandsrivier naby Uitenhage is dit tans uiters droog, sê mnr. Alan Whitehead, wat met beeste en bye boer.

“Ons het reën gekry, maar dit wissel van 36 mm tot 24 mm in die vallei.”Hy sê die situasie is tans desperaat wat die damme betref.“Ons damme is al die afgelope twee jaar leeg, veral veewaterdamme. Ander mense wat besproei, sukkel al vir vyf jaar met damme wat bykans leeg is. Die produksie van voedsel in die vallei is ver ondergemiddeld.”

Langkloof 
In die Langkloof het dit sowat 70 mm in Krakeel en 127 mm in die berge gereën, en 39 mm noord van die R62, sê mnr. Riaan Strydom, ’n boer van Krakeel.

“As jy die riviere sien, sal jy nie dink dit het 130 mm in die berge gereën nie, maar dit was droog. Ons het sedert Meimaand seker net 20 mm agter in die hoek gehad, wat nie eens genoeg is om die gras nat te maak nie.

“Ek kan nie glo die riviere loop so swak ná hierdie reën nie. Dit wys hoe droog dit was. Ons sal vinnig – binne die volgende week of twee – soveel reën moet kry, en dan glo ek die riviere sal weer loop.”

Hy sê die sneeu op die berge sal ook voordelig wees, hoewel hy nie dink daar sal genoeg vog wees om tot in die riviere te loop wanneer die sneeu smelt nie.