Mnr. Norman Celliers, uitvoerende hoof van Zeder, het tydens die groep se jaarvergadering gesê die maatskappy het R6,41 miljard verdien met die verkoop van sy aandele in Pioneer Foods. Daarvan is R1,5 miljard aan aandeelhouers terugbetaal in die vorm van ’n spesiale dividend.

“Ons het die geld op 23 Maart ontvang. Dit was ’n Maandagoggend, net drie dae voor die land ingeperk is. Terugskouend kon die tydsberekening nie beter gewees het nie, want dit het verseker dat ons balansstaat sterk is om die krisis tegemoet te gaan,” het Celliers gesê.

Volgens hom het Zeder se portefeulje ook “redelik goed” gevaar tydens die meer as 100 dae van inperking.

“Ons belê hoofsaaklik in maatskappye wat as noodsaaklike dienste beskou word. Die besighede kon grootliks oopbly, hoewel vraag beperk en kapasiteit ’n kwessie was. Ons bedryf is gelukkig minder geraak as ander.”

Celliers het gesê die volle impak van Covid-19 is egter nog nie bekend nie. “Dis nog te vroeg om kommentaar hieroor te lewer. Ons sal eers moet sien hoe die res van die jaar vorder en hoe dinge weer normaliseer. Tot dusver is ons goed geposisioneer met kontantreserwes en likiditeit, maar ons hou ons balansstate fyn dop. Areas met skuld word versigtig gemonitor, maar ek glo ons is in die posisie om die storm deur te sien.”

Zeder het ook sy aandele in Quantum Foods verkoop teen R308 miljoen, op daardie tydstip ’n premie van 45% tot 60%. Altesaam R181 miljoen daarvan is gebruik om 7 miljoen tot 7,7 miljoen Zeder-aandele terug te koop.

Die Pioneer Foods- en Quantum Foods-transaksies het ’n invloed gehad op Zeder se som-van-die-dele-waarde. Dit het afgeneem van R5,97 en sit tans op R3,78.

“Ons portefeuljewaarde van beleggings het gedaal van R11,5 miljard tot R4,9 miljard. Ons kon al ons skuld afbetaal en daar is ’n kontantbalans van R1,167 miljard,” sê Celliers.

Die saadmaatskappy Zaad is tans Zeder se grootste belegging. Ander maatskappye waarin hy belang het, is The Logistics Group, Cape Span, Kaap Agri en Afrivision Africa.