Dit volg nadat die Grondwethof die Parlement gelas het om dié wysingingswetsontwerp teen Julie vanjaar te verorden. Die verhore sal van 18 Junie tot 3 Julie plaasvind.

Intussen sal die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee, wat met dié kwessie belas is, sy reeks landwye openbare sittings oor die voorstel van onteiening sonder vergoeding op 26 Junie op Springbok in die Noord-Kaap van stapel stuur. Dié sittings sal tot 28 Julie duur.

Paneel se aanbeveling geïgnoreer

Die verhore oor die gewysigde restitusiewetgewing volg ten spyte van die onafhanklike hoëvlakpaneel, onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe, se aanbeveling dat ’n alternatief so spoedig moontlik vir dié ingediende private ledevoorstel oor die wysigingswetsontwerp op die herstel van grondregte, geformuleer moet word.

Die ledevoorstel is deur mnr. Justice Mnguni, ANC-LP, ingedien. Die paneel het bevind dat dié wetsontwerp nie kwessies oor die begroting en vermoë om restitusie te laat geskied, takel nie. “Dit versterk eerder die gevare oor nuwe eise wat ou eise kan troef waarteen die Grondwethof gewaarsku het.”

Mnguni het die wysigingswetsontwerp op die herstel van grondregte, wat die grondeiseproses vir vyf jaar weer oopgestel het, verlede jaar by die Parlement ingedien. Dit is op 28 Julie 2016 deur die Grondwethof ongeldig verklaar.

Dit was omdat die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) versuim het om behoorlike openbare verhore te hou in sy haas om die wetgewing voor die 2014-verkiesing afgehandel te kry. Altesaam 24 maande is toegestaan sodat die proses reggestel kan word.

Hoe lyk die voorstelle?

Van die voorstelle wat die wetgewing op die tafel plaas, is:

·        Dat die afsnydatum vir die indien van nuwe grondeise tot 30 Junie 2021 verleng word.

·        Dat geen nuwe eise verwerk moet word totdat al die eise wat teen einde 31 Desember 1998 ingestel was, eers afgehandel is nie.

·        Dat besonderhede van ’n eis gesirkuleer moet word in die nasionale media en in die provinsiale media waar die grond geleë is.

·        Die Grondeisekommissie moet verseker dat eise wat teen Desember 1998 ingestel is, afgehandel is voor enige nuwe eise begin verwerk word.

·        Die kommissie moet ’n register saamstel waarin eise gedokumenteer word en dit móét vir die publiek toeganklik wees.

·        Die tydperk vir die heroopstel van eise moet verleng word.

·        Die Grondeisekommissaris moet skriftelik sertifiseer dat alle eise wat voor einde Desember 1998 ingestel was, afgehandel is. Die kommissaris moet dan die aanvangsdatum vir die verwerking van die nuwe eise in die Staatskoerant afkondig.

·        Wysigings moet gemaak word om twee bykomende strafregtelike oortredings in die wetgewing te voeg vir gevalle waar voornemende eisers mislei of verhoed word om eise in te dien en wanneer bedrieglike eise ingestel word

Die program vir die openbare verhore is HIER beskikbaar. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.