Die wysigingswetsontwerp op onteiening (B23 van 2020) sal die huidige Wet op Onteiening (Wet 63 van 1975) vervang.

Die wysigingswetsontwerp dui die omstandighede aan waar ’n hof mag bepaal dat nulvergoeding betaal mag word wanneer grond vir openbare doeleiendes onteien word. Die departement van openbare werke en infrastruktuur het die wysigingswetgewing in November 2020 by die parlement ingedien. 

Die verhore in Limpopo, wat oor vier dae strek, sal in die Vhembe-distrik in die Thulamela-stadsaal in Thohoyandou begin. Die openbare verhore in die Mopani-distrik in die groter Tzaneen- plaaslike munisipaliteit sal Vrydag plaasvind, gevolg deur die Waterbergdistrik by die Modimolle- plaaslike munisipaliteit Saterdag en die Capricorn-distrik by die Polokwane- plaaslike munisipaliteit op Sondag. 

Hierna beweeg die parlement se portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur na Mpumalanga waar die verhore van 15 tot 18 April sal plaasvind, dan Noordwes van 22 tot 28 April, gevolg deur Gauteng van 6 tot 9 Mei, die Vrystaat van 13 tot 16 Mei, KwaZulu-Natal van 20 tot 23 Mei, die Oos-Kaap van 3 tot 6 Junie, die Noord-Kaap van 10 tot 13 Junie en die Wes-Kaap van 17 tot 20 Junie.