Covid-19 se verspreiding kan ’n daling in vraag in verskeie tradisionele uitvoermarkte meebring en só tot laer landboukommoditeitspryse lei, wat boere en landbousake-ondernemings se geldsake kan raak en die optimisme kan omkeer, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz.
Die organisasie en die Nywerheidontwikkelingskorporasie se kwartaallikse vertrouensindeks was in die eerste kwartaal van vanjaar die eerste keer in meer as ’n jaar op die neutrale punt van 50.
Dit beteken landboubesighede was tydens die opname betreklik optimisties nadat die indeks die vorige ses kwartale onder 50 was.
Die opname is in die laaste week van Februarie en eerste week van Maart gedoen, voordat die verspreiding van Covid-19 in verskeie gebiede vererger het.
Beter vooruitsigte
Landbousakelui se vertroue het in sewe van die tien subindekse verbeter. Dit sluit ’n sprong van 17 punte in rakende netto bedryfsinkomste, 9 punte rakende algemene ekonomiese toestande en 31 punte rakende algemene landboutoestande.
Laasgenoemde was danksy beter vooruitsigte vir somergrane, oliesade en tuinbou.
Sihlobo sê die verbetering in vertroue rakende netto bedryfsinkomste is getemper deur laer sentiment omdat somergraanlewering weens die laat begin van die seisoen later verwag word, en laer sentiment rakende landboumasjinerieverkope en die invloed van die bek-en-klouseeruitbreking.
Vertroue rakende uitvoer het met 5 punte verbeter, maar Sihlobo sê dit sal na verwagting verander omdat Covid-19 voorsieningskettings kan ontwrig en vraag kan verswak as verbruikers hulself isoleer en regerings maatreëls instel om die verspreiding van die virus te beperk.
Grondhervorming
Die subindekse waar sakevertroue gedaal het, is omset, indiensneming en kapitaalbeleggingsvertroue.
Sihlobo sê met eersgenoemde is veral verskaffers van produksiemiddele, landboumasjinerie-ondernemings, finansiële instellings en ondernemings wat op wintergrane toegespits is, pessimisties.
Die daling in vertroue rakende indiensneming kon ’n tydelike kwessie gewees het, maar Covid-19 kan verdere risiko’s inhou.
Oor beleggings het sakelui, soos telkemale tevore, gesê dat daar ’n gebrek aan sekerheid oor grondhervorming is.
“Die uitkoms van die gesprekke later vandeesmaand oor grondhervormingsbeleid rakende art. 25 van die Grondwet is ’n belangrike gebeurtenis om op ag te slaan, omdat dit vorentoe grondliggende implikasies vir landbousake-ondernemings en die landbousektor inhou,” sê Sihlobo.Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier