Mnr. Etienne van Wyk, veeboer van Marydale, wat vroeër vanjaar ook ’n spreker op Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad by Bela-Bela was, sê hy is “heeltemal benoud” omdat die grond waar hy boer, te klein is vir sy planne.

“Ek sit in ’n tragedie. As daar iemand is wat my kan help, of kan sê waar ek moet gaan aanklop.”

Hy het reeds goeie mentors in sy omgewing, soos mnr. Dries Wiese, en ’n goeie rekenmeester, “wat my ore draai as ek te haastig raak (om uit te brei)”.

Van Wyk het van kleins af by Wiese geleer en later vir hom gewerk, tot hy grond by die staat gekry het.

Die 3 800 ha waarop hy sowat 700 stuks vee kan aanhou, is egter te klein vir hom en het boonop beperkte water.

“Ek besef ons mense is baie verleë as dit by so-iets kom.”

Nou wil hy uitbrei, maar die Land Bank sê hy moet sekuriteit hê om ’n lening te kan kry.

“Ek is bereid om die lening aan te gaan en (werk) in te sit, maar dit moet vir Ettiene kan pas. Dit help nie ek kan grond koop, maar ek het nie vee nie.”

Hy het gevra dat ’n plan gemaak word vir boere soos hy.

Studente

Mnr. Tshilidzi Matshidzula, suksesvolle opkomende bees-en melkboer van die Oos-Kaap, het ’n beroep op kommersiële boere gedoen om studente in diens te neem wat praktiese ervaring nodig het om hul diplomas te voltooi.

“Wie weet, jy kan dalk net jou toekomstige vennoot só vind,” het Matshidzula gesê.

Dit was juis deur so ’n geleentheid dat hy self op ’n plaas beland het, waar hy vinnig opgang gemaak het.

Toe hy en vennote later hul melkplaas wou uitbrei, het hy gedink omdat al drie swart is, sou hulle hulp by die staat kry, maar hulle het slegs leë beloftes gekry.

Hulle het uiteindelik ’n 50%-aandeel aan hul buurman, mnr. Walter Biggs, verkoop om die nodige kapitaal te verkry en hoop om teen einde aanstaande jaar sowat 1 000 koeie te melk.

Matshidzula het die belangrikheid van kennis, verkry deur mentorskap, benadruk.

Hy en sy vennote het ’n mentorskapprogram begin en hy het ook sy studiegroeplede oortuig om jaarliks studente in te neem.

“Ons beoog om 27 tot 40 studente per jaar in te neem.”

Die Melkprodusente-organisasie gaan een van hul grootste vennote in die program wees.

Spilpunt

Boere wat suksesverhale van transformasie wil lees of inligting soek oor waar hulle ondersteuning kan kry, kan dié inligting op Agri SA se nuwe Agrohub-webwerf kry.

Mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, het die blad op die kongres bekend gestel en gesê die doel is om transformasiegeleenthede te ontsluit. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.