Die werksessies vroeër vanjaar was deel van ’n groter projek waarin 240 opkomende pluimveeboere landwyd reeds opgelei is. Die werksessies is gefinansier deur toekennings vanaf Amerikaanse regeringsagentskappe.

Me. Annie Baptiste van die Johannesburgse onderneming Franchising Plus, wat die werksessies vir die Noordwes-boere aangebied het, sê in ’n verklaring die 25 kleinskaalse pluimveeboere van Noordwes is nou op die regte pad om kommersiële boere te word. Baie van hulle het voorheen sonder kontantreserwes vir hul volgende produksiesiklusse geleef, selfs al was van hulle se omset tot R70 000 per maand.

Van die boere is gegradueerdes en sommiges het ’n boerdery-agtergrond, tog het hul sakebestuursvaardighede tekort geskiet.

“Die meeste van hulle het nie hul sake-inkomste van hul persoonlike inkomste geskei nie. Pleks daarvan om ’n besigheidsrekening te hê en hulself ’n salaris te betaal, het hulle hul inkomste bestee sodra dit ingekom het. Dit beteken hulle het geen reserwes vir toekomstige siklusse en uitbreiding gehad nie, en geen rekords om bankleningsaansoeke te ondersteun nie,” sê Baptiste.

Deur bloot hul finansiële bestuur te verbeter, kon die deelnemers geld eenkant sit vir bedryfskoste en uitbreiding en kon hul omset verbeter.

Die kursus het ook beste boerderypraktyke ingesluit.

Altesame 63% van die 25 boere het ná die kursus gesê hul inkomste het gestyg, 74% se winsgewendheid en 80% se rekordhouding het verbeter.

Baptiste sê die meeste boere het ambisies om kommersiële produsente te word.

Me. Neo Mohlamme van Neo Poultry Farm by Klerksdorp het ses hoenderhuise op 174 ha en wil dit binne die volgende vyf jaar uitbrei tot van 45 tot 50 hoenderhuise.

“Danksy die opleiding is my rekordhouding nou op datum, ek het ’n besigheidsbankrekening geopen, en ek voldoen aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se vereistes,” sê Mohlamme.

Me. Neo Mohlamme. Foto: ITP Communications
Me. Mosele Mokgoetsi FOTO: ITP COMMUNICATIONS
Me. Mosele Mokgoetsi. Foto: ITP Communications

Me. Mosele Mokgoetsi van die plaas Blesbokfontein by Ventersdorp het 1 500 lêhenne en kan nie voorbly in die vraag na eiers nie. Sy wil haar boerdery tot 90 000 henne uitbrei.

“Danksy die opleiding kan ek nou ’n voeromsettingsverhouding uitwerk. Ek weeg my voer en weet hoeveel gram die hoenders per dag eet. Ek kan ook my eierproduksie nagaan en sien hoe dit daarmee korreleer,” sê sy.