Terwyl die meeste van hulle op laevlaktegnologie staatmaak, met beperkte insette oor die weg kom en hoofsaaklik op informele markte steun, is daar ’n groep boere wat hulself uit die versukkeldheid boer. Daar is reeds 24 van hierdie boere wat met Global Gapp-akkreditasie kan spog en vanjaar het 30 Vhembe-boere die jaarlikse Subtrop-transformasiesimposium op eie koste bygewoon.

Hul sukses kan grootliks toegeskryf word aan die toepassing van kennis wat hulle by gereelde studiegroepvergaderings oor hul onderskeie gewasse ontvang, sê me. N.M. Sikhipa van Limpopo se departement van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling.

Private sektor help

Dit het alles begin toe die departement en die Landbounavorsingsraad (LNR) boere van 2008 tot 2011 met ’n massiewe aanplantingsprogram bygestaan het. In dié tyd is 282 292 vrugtesaailinge met 50% gesubsidieer en vir 181 begunstigdes aangeplant.

Om hierdie boere te help ontwikkel tot op ’n punt waar hulle eendag kommersieel kan produseer, is die hulp van private instellings soos Subtrop, die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, en die LNR ingeroep.

Hierdie organisasies het landboutegniese adviesdienste, vaardigheidsontwikkeling en mentorskap aangebied, en boere bygestaan met lewensvatbaarheidstudies van projekte, die skep van markte en bemarkingsgeleenthede, verpakkingsgeriewe en deur die nuutste bedryfsinligting.

In 2007 is studiegroepe op die been gebring. Elke kommoditeit, wat insluit sitrus, mango’s, lietsjies, avokado’s en makadamianeute, het vier studiegroepvergaderings per jaar.

So werk studiegroepe

Subtrop maak aan die begin van elke jaar sy jaarplan aan die Vhembe-boere beskikbaar. Hierop is al die subtropiese bedrywe se belangrike datums aangedui en ook datums vir studiegroepvergaderings vir die verskillende gewasse en produksiestreke. Die boere en hul landboukundige adviseurs moet egter self onderwerpe en sprekers vir die vergaderings kies. Hulle moet ook hul eie lokale vir vergaderings reël.

Sikhipa sê die tema vir elke vergadering word bepaal deur die seisoenale siklus van die betrokke gewas en ook deur kwessies soos siektes en plae wat uitbreek en dringend aandag verg. Sprekers kan selfs gevra word om nuwe wetgewing of handelsregulasies te bespreek, indien nodig.

Me. N.M. Skhipa
Me. N.M. Skhipa, koördineer van studiegroepe in die distrik Vhembe waar kommoditeitsorganisasies soos Subtrop en die Sitruskwekersvereniging bestaansboere help om kommersieel te produseer en bemark. Foto: Jasper Raats

“Dikwels kry ons navorsers van Subtrop en die LNR wat hul nuutste navorsingsbevindinge op ons studiegroepvergaderings kom aanbied. Ander kere nooi kommersiële boere ons studiegroepe om hul plase te besoek waar hulle hul produksiepraktyke met ons bespreek. Ons was al by die meeste groot boerderye in Levubu en Tzaneen,” sê Sikhipa.

Sy sê dit is danksy hierdie wisselwerking dat sommige Vhembe-boere van bestaansboerdery kon vorder tot op die punt waar hulle op nasionale en uitvoermarkte konsentreer.

“Vandag is ons waar ons is, want ons is goed gemarineer en deeglik gekook deur die kenners by Subtrop,” sê Sikhipa.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.