Só het mnr. Hennie Viljoen van die Christelike landbou-organisasie Amos Agrimin tydens ’n Christelike grondberaad in Johannesburg gesê. Volgens hom is onteiening sonder vergoeding, soos kolonialisme en apartheid, ’n negatiewe wen-verloor-benadering.

“Ons moet die proses omdraai na ’n wen-wen-benadering. Daar moet gegee pleks van gegryp word. Vergifnis, grond, kundigheid, geleenthede en sekerheid van eiendomsreg moet alles gegee word.”

Viljoen glo kommersiële boere moet ooreenkom om ’n bedrag gelykstaande aan ’n onderhandelde persentasie van die waarde van hul grond in ’n grondfonds te stort waarmee kommersiële plase op die vrye mark gekoop kan word en waarop begunstigdes van hul keuse gevestig kan word.

Die Regering moet dan wesenlike erkenning en sekerheid van eiendomsreg gee aan boere wat vrywillig dié bydrae gelewer het. Dit moet op die titelakte (soos in die geval van waterregte) aangedui word. Hierdie sekerheid van eiendomsreg sal dan waarde toevoeg tot die spesifieke plaas.

Daarby stel Viljoen voor dat landboubesighede as deel van hul besteding vir maatskaplike verantwoordelikheid ook tot die grondfonds bydra, terwyl banke verlaagde rentekoerse vir die koop van grond kan bied en produsente en produsente-organisasies hul kundigheid en praktiese vaardighede aan nuwe boere beskikbaar kan stel. Die res van die private sektor en buiteland kan ook genader word om by te dra.

“Op dié manier kan onreg reggestel, konflik blywend opgelos en ’n wen-wen-situasie geskep word,” het Viljoen gesê. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.