Suid-Afrikaners moet die keuses oor hul toekoms self maak, het mnr. Malcolm Ferguson, ouddiplomaat en internasionale landboukonsultant, Woensdag op Graan SA se jaarkongres op Nampopark by Bothaville gesê. Hy het oor die politieke en ekonomiese omgewing in Suid-Afrika gepraat.

“Ons moet aanvaar daar is ’n grondwetlike mandaat vir grondhervorming. Die wyse waarop mense daarop reageer, gaan bepaal hoe Suid-Afrika aan die einde van daardie proses kom,” het Ferguson gesê.

Hy het gewaarsku dat mense nie fopnuus oor grondonteiening moet versprei met die doel om ander bang te praat nie.

“Suid-Afrika het reeds ondervinding van Bell Pottinger en die fopnuus-veldtog oor witmonopolie-kapitaal wat rasseverhoudings in Suid-Afrika groot skade aangedoen het. Mense moenie hul ore aan opswepery uitleen nie.”

Ferguson, wat in die apartheidsjare ’n Suid-Afrikaanse diplomaat in Amerika was, het gesê hy het in dié tyd die regterkant van die Amerikaanse politieke spektrum goed leer ken. Plaaslike boere moet nie staatmaak op daadwerklike hulp uit daardie oord om onteiening te beveg nie.

Hy was ook ambassadeur in Israel, wat hy beskryf het as ’n klein, maar baie selfstandige land. “Die Israeli’s het besluit hulle moet vir hulself sorg en daarin lê groot lesse vir Suid-Afrika.”

Hy het gesê die ANC moet ’n moeilike balanseertoertjie met grondonteiening sonder vergoeding handhaaf, waar hy fyn moet trap tussen die radikale eise van die EFF aan die een kant, en die besware vanuit die geledere van die DA en die Vryheidsfont aan die ander kant.

“Dis ’n baie emosionele saak. Ons het dit gesien met die openbare verhore oor onteiening sonder vergoeding. Dit was baie duidelik swart mense wil hierdie beleid hê.” 

Ferguson het gesê hy skep baie moed uit die wyse waarop boere die voortou neem om self die ongeregtighede van die verlede reg te stel.

“Ons het op Landbouweekblad se grondberaad in Bela-Bela heelwat van dié suksesverhale gehoor, van boere wat hul plaaswerkers mentor om te boer en van swart en wit boere wat hande gevat het en nou anders dink oor die gemeenskap waarin hulle woon en werk.

“As elke kommersiële boer ander insluit by die welstand en voordele wat hulle geniet, kan die littekens van die verlede begin genees. Die lig wat ek aan die einde van die tonnel sien, is juis alles wat boere doen om op individuele vlak ’n verskil te maak.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.