Hy was ’n spreker op die kwartaallikse landboumark-werksessie in Bloemfontein van prof. Johan Willemse, wat Landbouweekblad se weeklikse rubriek oor ekonomiese sake skryf. Van den Berg het gepraat oor die wetenskap agter weer- en klimaatvoorspellings en vooruitsigte vir die res van die seisoen.

Soos sake nou staan, is daar ’n 70%-kans op ten minste normale reën vir die grootste deel van Suid-Afrika, sê hy.

Sonvlek-aktiwiteit versterk dié verwagting: ’n Afname in sonvlek-aktiwiteit het in die verlede meestal met droogte in Suid-Afrika gepaardgegaan, terwyl ’n opwaartse kurwe in ’n natter siklus was. Volgens die jongste statistieke lyk dit of hierdie kurwe op sy onderste draaipunt kan wees en nou boontoe kan begin beweeg.

Die swak La Niña wat die laaste paar maande heers, duur steeds voort. Die tipiese atmosferiese toestande in die Stille Oseaan wat gewoonlik met ’n La Niña gepaardgaan en in interaksie met die see-oppervlak tree om dié weerverskynsel te versterk, word nog nie opgemerk nie.

Van den Berg waarsku dat boere die wetenskaplike werklikheid van seisoenale voorspellings moet besef. Dit is op historiese statistieke gegrond, en nie – soos weervoorspellings op korter termyn – op dinamiese modelle nie. “As daar ’n 70%-kans op normale reënval is, is daar steeds ’n 30%-kans dat dit nie ’n werklikheid word nie. As die reënval dus ondergemiddeld is, het die 30% gegeld.

"Voorspellings bly voorspellings, dit is nie feite nie"

“Voorspellings bly voorspellings; dit is nie feite nie. Die heel beste voorspellings se akkuraatheid is gewoonlik nie meer as 70% nie. Die effek van klimaatsverandering word ook nie in seisoensvooruitskouings verreken nie. Bou dit in jou beplanning in. Besluit wat jy gaan doen as die 30%-kans realiseer.”

Historiese statistieke wys wél dat die oorgrote meerderheid La Niña-jare bogemiddelde opbrengste vir Suid-Afrika se somerreënvalgebied oplewer, en die meeste El Niño-jare ondergemiddelde opbrengste, sê Van den Berg.

Hy voeg by dat dit onmoontlik is om die weer vir ’n enkele geografiese punt te voorspel. “In ’n goeie jaar kan jy steeds in ’n swak kol lê.”

Dieselfde geld reënvalverspreiding binne ’n seisoen: “Dit is amper onmoontlik om te voorspel.”

Boere moet ook nie net die voorspellings vir die komende seisoen in ag neem as hulle beplan nie. Die kumulatiewe uitwerking van voorafgaande droogtes (op byvoorbeeld ’n boerdery se finansiële posisie en grondvogvlakke) word té dikwels nie verreken voor boere op ’n plantstrategie vir die komende seisoen besluit nie, sê hy.

Hy waarsku voorts teen die geneigdheid om ooroptimisties te wees en die beste toekomsscenario as normaal te beskou. “Moenie ’n goeie jaar as die nuwe normaal beskou nie.”