Die prys het in een stadium met R794/t gestyg.  Die prys het Maandag van R3 160/t tot R4 000/t gewissel. Vrydag (20 Maart) se sluitingsprys was R3 206/t.

Ontleders wys daarop dat die beskikbare voorraad witmielies tans laag is.

“Ouseisoenpryse word aangedryf deur die werklikheid dat die mark nie eerstegraadse witmielies in die hande kry nie,” skryf Senwes Grainlink in sy daaglikse nuusbrief oor die markneigings.  

Die nuwe seisoen (2019-’20) se oes is laat aangeplant en sal dus ook eers later gestroop word, wat verdere druk op die knap voorraad in die silo’s plaas.

“Voeg by dat verbruikers waarskynlik tans mieliemeel opgaar weens Covid-19 en ’n waarskynlike hoër aanvraag. Ek vermoed daar is ook eerder ’n mate van opportunisme in die mark as werklike besorgdheid oor tekorte,” sê mnr. Anthony Clark, ontleder van Small Talk Daily.

Volgens dr. Werner Rossouw, direkteur van Silostrat, is ’n groot gedeelte van die beskikbare witmielies in die mark van swakker gehalte (WM2/WM3). “Die handelaars met verkoopsposisies op die Maart 2020 witmielie-kontrak moet hierdie posisies terugkoop as hulle nie eerstegraadse (WM1-) voorraad het om teen hierdie posisies te lewer nie. Onthou, jy mag nie WM2 of WM3 lewer teen ’n WM1-kontrak op die beurs nie”

Die negatiewe prysverskil kan veroorsaak dat markdeelnemers die Maart 2020-witmieliekontrak al hoe verder opdruk in ’n poging om kort posisies aan te rol as hulle nie eerstegraadse witmielies het om te lewer teen die kort posisies nie, sê Senwes Grainlink in sy dagverslag. Die handelaar sê aggressiewe prysveranderings op dié kontrak is steeds waarskynlik.

Die rede waarom die ou seisoen se voorraad van eerstegraadse witmielies knap is, is omdat witmielies later as gewoonlik aangeplant is nadat die reën in die 2018-’19-seisoen laat gekom het. Sommige boere in die westelike saaigebiede het tot so laat as September 2019 gestroop en die mielies het nie voldoende uitgedroog nie. Dit het die gehalte van die oes benadeel.

Clark sê kontrakte vir die lewering van witmielies in Julie 2020 verhandel meer besadig omdat daar meer produksiesekerheid is danksy die verwagte groot oes. Die prys word egter deur die swakker rand ondersteun en is tans gemiddeld R100/t hoër as voordat die Covid-19-pandemie Suid-Afrika getref het.