Mnr. Jannie Rossouw is op 1 Oktober, na ’n besluit deur die OVK-direksie, aangestel as nuwe hoofbestuurder van die afdeling Vesel en Lewendehawe Noord. Volgens mnr. Billy van Zyl, OVK-direkteurslid, is die doel met dié aanstelling om OVK se veselvoetspoor verder uit te brei.

Rossouw is tydens OVK se onlangse galageleentheid in Port Elizabeth, waar top-produsente, -kopers en -handelaars in die vesel- en lewendehawebedryf vir hulle prestasies vereer is, aan die publiek voorgestel. Hy sal aansluit by mnr. Wallie Weeks, wat die vesel- en lewendehawe-afdeling vir die land se suidelike streke behartig.

R75 miljoen aan aandeelhouers

Volgens Van Zyl gaan dit tans goed met OVK en het die maatskappy oor die afgelope finansiële jaar ongeveer R75 miljoen aan hulle aandeelhouers uitbetaal deur hul lojaliteitskema en dividende. OVK verskaf tans dienste aan ongeveer 10 000 Suid-Afrikaanse boere, aldus Van Zyl.

Hy sê die maatskappy kon verskeie probleme, soos lae graanpryse, oor die afgelope jaar oorkom deur middel van diversifikasie.

Hoogte- en laagtepunte in die veselbedryf

Volgens Weeks het OVK die afgelope jaar verskeie hoogtepunte én probleme in die veselbedryf ervaar. Hoogtepunte sluit in die wêreldrekordpryse wat bokhaarprodusente by veilings behaal het, asook wolprodusente wat van die beste pryse nóg in Suid-Afrika vir hul skeersels behaal het.

Die sogenaamde Peta-voorval, waar ’n video van die beweerde mishandeling van Angorabokke vroeër dié jaar deur dié diereregte-organisasie op hul webwerf gelaai is, personeelstakings by die veselaanleg in Port Elizabeth en regulasies vir wol- en bokhaaruitvoere na Lesotho, was volgens Weeks uitdagings wat OVK die afgelope jaar moes hanteer. Hy sê egter dat daar verskeie lesse te leer was, soos om saam te staan. Die Peta-voorval het as herinnering gedien dat die maatskappy op volhoubaarheid en dierewelsyn sal moet fokus indien hulle ’n rolspeler in die vesel- en lewendehawe-bedryf wil wees.

Mnr. Heinrich Victor, bedryfsbestuurder van vesel in Port Elizabeth, het bygevoeg dat naspeurbaarheid saam met volhoubaarheid ’n groot rol in die veselbedryf speel. “China is ’n al groter rolspeler en koop tans 70% van Suid-Afrika se skeersels, en hulle raak ook al ‘groener’. Dit beteken ons sal moet voldoen aan kodes vir beste praktyke en standaarde wat hulle daar stel.”

Hy sê dit behels ook biosekuriteit, veral wat slenkdalkoors en miltsiekte betref, aangesien China nie wol aanvaar uit lande waar die siektes uitbreek nie.

“OVK ondersteun die bedryf daarvolgens en almal moet verantwoordelikheid aanvaar.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.