Sy lojaliteitskorting beloop R217,35 miljoen, wat ’n styging van 12,51% teenoor die vorige jaar se R193,17 miljoen beteken.

Mnr. Chris Bender, voorsitter van die OVK-groep, sê ten spyte van die inperkingsmaatreëls en die uitwerking daarvan op die groep se bedrywighede, het die wins ná belasting R142 428 521 beloop teenoor die vorige boekjaar se R117 762 923. Dit verteenwoordig ’n styging van 21.8%.

’n Dividend van 65c per aandeel is op die jaarvergadering op Ladybrand goedgekeur.

Die omset in die finansiële state is R5 004 510 027, wat ’n styging van 5,5% teenoor die vorige jaar beteken. Die totale omvang van die groep se sakebedrywighede beloop egter R10,14 miljard, ’n toename van 7,7% teenoor die vorige jaar.

Mnr. Stéfan Oberholzer, die groep se besturende direkteur, sê hoewel die uitwerking van die Covid-19-pandemie op die groter OVK se resultate minimaal was, is sy personeel en klante wesenlik daardeur geraak.

Die totale uitkeringsbedrag aan lede deur middel van die lojaliteitskorting, dividend en veselrabat beloop R72 miljoen, oftewel R205 miljoen in die afgelope drie jaar.

OVK se handelsafdeling het ’n rekordwins en groei van 14% teenoor die vorige jaar behaal. Die maatskappy se landbouverwante debiteureboek van R2,23 miljard het met 12,45% teenoor die vorige jaar gestyg.

OVK het ook die afgelope jaar sy hoogste graanontvangssyfer in sy geskiedenis aangeteken teenoor die vorige hoogste in 2018.

Meer inligting is beskikbaar op: https://www.ovk.co.za/Documents/.