Dié stap volg nadat die gemeenskap se vertoë aan die provinsiale regering oor die haglike toestand van paaie in die omgewing op dowe ore geval het.

Mnr. Friedl von Maltitz, woordvoerder van die forum, sê me. Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, het nie gehoor gegee aan hul skriftelike versoek vir ’n vergadering nie.

’n Beswaarskrif met meer as 2 000 handtekeninge van inwoners van Lindley, Petrus Steyn en Arlington is vroeër ook aan die kantoor van mnr. Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir paaie, polisie en vervoer, oorhandig waarvolgens die dringende herstel van die R707 versoek is.

Von Maltitz sê voertuie van onder meer die Ficksburgse taxivereniging Fita en plaaswerktuie sal in die protesoptrede gebruik word.

Van die belanghebbendes wat sal deelneem, is lede van die Ficksburg- en die Imperani-landbouvereniging, Fita, Afasa, OVK, Setsoto-jeugontwikkeling en huurders van Ficksburgse meentgrond.

Von Maltitz sê die gebied se boere is omgekrap oor die toestand van paaie, maar dat dit nou eers duidelik geword het hoe verreikend die impak van die swak paaie op die gemeenskap is. Taxibestuurders se inkomste is onder meer ook in die gedrang omdat sekere roetes onbegaanbaar is.

Die versoekskrif aan Mashinini het verwys na die vele beloftes deur verskeie ampsdraers insake die herstel en opknapping van paaie in die distrik wat nie gerealiseer het nie.

Die forum het ook voorgestel dat die forum alle geld administreer wat vir die herstel van die paaie bewillig word.