Die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkvereniging (Salba) en Vinpro hoop egter steeds vir meer betekenisvolle gesprekke tussen die bedryf en die regering.

Ramaphosa het gesê aangesien alkoholverbruik roekelose gedrag aanspoor, is sekere drankbeperkings wel nodig oor die Paasnaweek. Drankwinkels mag nie op Paasvrydag, Saterdag, Sondag of Gesinsmaandag drank verkoop nie. Restaurante, proelokale, sjebiens en kroeë word wel toegelaat om in ooreenstemming met hul dranklisensies tot 23:00 drank te verkoop, maar slegs om op die perseel te verbruik.

Salba het die besluit om drankverkope nie geheel en al te verbied nie verwelkom. Dit sal veral die toerismebedryf help. Algehele drankverkoopsverbiedings is die afgelope jaar drie keer ingestel en het gelei tot altesaam 19 weke se verlies aan handel. Die drankbedryf het sowat R36 miljard aan inkomste verloor en die regering was R29 miljard se belastinginkomste kwyt.

Vinpro het gehoop vir ligter reëls

Die wynbedryfsorganisasie Vinpro het sy asem opgehou vir ligter inperkingsmaatreëls oor die Paasnaweek. Volgens Vinpro maak drastiese besluite om die verkoop van drankprodukte te verbied nie tans sin nie. Dis ook nie gegrond op wetenskaplike data nie.

Dié liggaam het die afgelope drie weke op verskeie forums, soos nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac), voorgestel dat alkoholverkope volgens lisensievoorwaardes tydens Paasnaweek voortgaan. Vinpro meen ’n strenger aandklokreël, beperking op die getal mense wat byeenkomste bywoon, en beter polisiëring van brandpunte sou genoeg wees.

“In die lig van die inentingsprogram wat uiters stadig uit die blokke kom, en die chaos in die Kaapse hawe, wat ’n groot invloed op uitvoer het, is ekonomiese herstel nou uiters belangrik, spesifiek in die wyn- en toerismebedrywe,” het mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, by monde van ’n woordvoerder gesê.

Waar is deursigtigheid?

Salba en Vinpro is albei teleurgesteld met die wyse waarop die regering met die drankbedryf kommunikeer.

“Konsultasie vanaf die regering is dikwels gebrekkig,” het Basson gesê. “Dit bly ’n bron van kommer en frustrasie dat ons nasionale regeringsvennote oor die afgelope jaar nie besluite op ’n deursigtige of wetenskaplike basis benader nie. Dit blyk dat die drankbedryf doelbewus uit ’n politieke oogpunt die blaam moet dra vir wesenlike gebreke in die staatsdiens rondom polisiëring, wetstoepassing, ’n swak gesondheidstelsel, ens.”

Volgens mnr. Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, is daar ’n behoefte om meer met die regering te skakel. “Ons wil die denke agter die beperkings beter verstaan.”

Die wynbedryf se hofsaak teen die regering gaan op 28 en 29 April voort voor ’n volbank regters. Hulle hoop dat die magte oor drankverkope daarna in die hande van provinsies gesetel sal word.