Die vyf mans word saam met mnr. Werner Potgieter beskuldig van onder meer moord, ontvoering en poging tot moord nadat twee broers, mnre. Amos en Zenzele Coka, op 9 April in ’n voorval op die plaas Pampoenkraal dood is.

Die vyf mans is elk borgtog van R10 000 toegestaan en gewaarsku om nie met die staat se getuies in te meng nie.

Fankomo het gesê videomateriaal wat volgens die verdediging deur statiese kameras op Pampoenkraal vasgelê is, weerlê dele van die staat se getuienis en dit dui daarop dat verdere ondersoek nodig is. Hy het ook gesê daar is nie genoegsame bewys deur die staat gelewer om die beskuldigdes van skedule ses-oortredings te beskuldig nie. Dit word dus net as skedule vyf-oortredings beskou, wat beteken die beskuldigdes hoef slegs te bewys dat hul vrylating nie met die belang van geregtigheid bots nie.

Vir skedule ses-oortredings moet beskuldigdes bewys dat buitengewone omstandighede in belang van geregtigheid hul vrylating toelaatbaar maak.

Polisie bedank

Mnr. Robert Davel, uitvoerende hoof van Mpumalanga Landbou, het namens die organisasie se dagbestuur laat weet die hof se besluit word verwelkom. Hy het die polisie bedank vir die manier waarop hulle wet en orde gehandhaaf het tydens die borgaansoek wat oor byna twee weke gestrek het.

In die eerste week het oproerige skares buite die hof daarin geslaag om die hofsaak te ontwrig deur verbygangers en selfs polisielede met bottels en klippe te bestook. Die afgelope week was byeenkomste buite die hof egter vreedsaam.

Benewens ’n baie sterk polisieteenwoordigheid het die georganiseerde landbou en veiligheidssorganisasies nou saamgewerk om fopnuus, verdagmakery en opstokery hok te slaan. Inwoners en boere is gevra om inligting wat hulle kry, na ’n sentrale beheerkamer te stuur waar dit geverifieer is voordat dit op WhatsApp-groepe versprei is.

“Ons het baie goeie samewerking onder mekaar, ongeag ons lidmaatskap aan verskillende organisasies,” sê mnr. Ronnie Schilling, streeksbestuurder vir TLU-SA Oos en Natal.

Begrip vir landdros

Hy het ook die vyf mans se borgtog verwelkom en gesê die hof het hom goed van sy taak gekwyt. Dié voormalige polisiekolonel sê dit is te verstane dat mense gefrustreerd geraak het omdat die borgverhoor so lank geduur het. Hy het egter bygevoeg omdat daar getuienis gelewer moes word op verskillende klagte teen die vyf verdagtes, sou die hof die aansoek nie vinniger kon afhandel sonder om kortpaaie te neem nie.

Die feit dat die hof borgtog toegestaan het nadat dit alle getuienis aangehoor is, is nie net goed vir die vyf verdagtes nie, maar die hele land. “Dit kon gemoedere hoog laat loop en tot lelike gevolge gelei het as die hof sonder deeglike oorweging borgtog geweier het,” sê Schilling.

Schilling en Davel het hul organisasies se verbintenis tot beter samewerking en verhoudinge met alle mense in die distrik Piet Retief bevestig.

Intussen het me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, ’n beroep op die polisie gedoen om te verseker die ondersoek na die dood van die Coka-broers word deeglik gedoen en met deursigtigheid hanteer sodat geregtigheid geskied en daar uiteindelik vrede sal wees in dié gemeenskap waar die spanning tans baie hoog loop.