"Selfs elektriese heinings hou nie diewe wat met vragmotors en bakkies kom plunder uit nie. Hulle lig eenvoudig die elektriese draad met ’n stok op en sleep die sakke avo’s onderdeur,” sê mnr. Chris Richter, ’n avokadokweker van Karic Farming naby Mbombela (Nelspruit).

Richter het onlangs die meegaande foto op sosiale media gesirkuleer. Die sakke vol avokado’s is op ’n buurplaas gekry waar diewe dit gelos het nadat hulle ’n alarm geaktiveer het toe hulle hul buit in die oggendure van Sondag 21 Januarie wou oplaai.

Die avokado’s wat netjies in ’n ry in sakke gepak is, gereed om op te laai, is Saterdag 20 Januarie deur diewe gepluk. Daar was 3 ton avokado’s so langs die draad gepak, sê Richter, en hy wys daarop dat daar reeds ’n klomp sakke onderdeur gesleep en opgelaai is. ’n Mens kan die sleepmerke duidelik op die foto sien waar ’n stok die draad ophou.

Richter sê die hartseer van die situasie is dat hierdie avokado’s waardeloos is, want dit is nog in die groeifase en sal nie ryp word nie. “Dit is Pinkertons. Die olie- en vogpersentasie in die vrugte is nog te laag vir die avo’s om ryp te word,” verduidelik hy.

’n Foto wat mnr. Chris Richter van Mbombela (Nelspruit) onlangs op sosiale media gesirkuleer het, wys die omvang van produkdiefstal in Suid-Afrika se subtropiese vrugte- en neutbedryf.
’n Foto wat mnr. Chris Richter van Mbombela (Nelspruit) onlangs op sosiale media gesirkuleer het, wys die omvang van produkdiefstal in Suid-Afrika se subtropiese vrugte- en neutbedryf.

Verbruikers moet opgevoed word

Richter sê verbruikers moet bewus gemaak word van hierdie probleem, want daar moet tonne sulke avokado’s op die mark wees.

“Hier word vragte vol in ons omgewing gesteel. Ek en my pa het Sondag, net nadat hierdie vonds gekry is, diewe in ons boorde betrap. Verlede jaar het ’n ander buurman beeldmateriaal van ’n vragmotor met 4 ton avo’s wat reeds opreeds gelaai is, met sekuriteitskameras op sy plaas vasgevang.”

Dié avokado’s word oral verkoop en verbruikers wat dink hulle kry ’n winskoop by informele stalletjies langs die pad, moet twee keer dink. “Daar is nie nou ryp avo’s in Suid-Afrika nie. Nie voor middel Maart nie.

Verbruikers wat nou ‘goedkoop’ avo’s kry, koop ’n kat in die sak, want daardie vrugte word nie ryp nie en dit proe na niks. Dit is hoekom ’n mens dié tyd van die jaar byna R50 vir twee avo’s betaal – ryp, wettige avo’s word van ander lande, soos Spanje, ingevoer. Dit is ook nie net avokado’s wat gesteel word nie, sê hy. Lietsjies en makadamias word op dieselfde skaal gesteel.

Richter meen die enigste manier om die probleem hok te slaan, is deur verbruikersopvoeding. Hoe meer verbruikers besef dat “goedkoop” avokado’s buite seisoentyd nooit ryp gaan word nie, hoe minder sal hulle die onwettige mark ondersteun en hoe kleiner sal die vraag na sulke groen vrugte wees.

Hy sê leidrade wat boere tot op hede opgevolg het, toon dat baie smouse mense van sakke voorsien en betaal om vir hulle gesteelde avokado’s te bring. “Die dief en die verkoper is al wie baat vind. Die boer verloor sy oes en die verbruikers mors sy geld.”