Die mense wat die produkte maak wat op sulke platforms verhandel, kan egter in die nuwe normaal floreer, meen me. Bronwyn Williams, ekonoom en toekomsontleder van die maatskappy Flux Trends.

Williams was onlangs ’n gas van die sakejoernalis Bruce Whitfield op PSG Consult se Think Big-webinaarreeks.

Sy het gesê hoewel maatskappye soos Airbnb, Uber en Alibaba uiters suksesvol en miljarde werd is, is hulle nie eintlik produktief nie. Hulle skep niks van waarde buiten die kantelplatform wat hulle bied nie. Daar is altyd ’n risiko dat sulke maatskappye te veel hulpbronne daaraan wy om geld te jaag.

Williams meen dit is baie meer volhoubaar om die mens of die maatskappy te wees wat die produk vervaardig of, in die geval van boere, die voedsel produseer.

Die Covid-19-pandemie het gewys hoe weerbaar platformbesighede is, maar ook hoe noodsaaklik dit is dat die “werklike mense” aan weerskante van die platform daarsonder aanhou funksioneer. Sy glo die geleenthede van die toekoms lê by hierdie “werklike mense”.

“Ons het almal liggame en het sekere dinge soos voedsel nodig om te kan funksioneer. Om ons werk te doen en produktief te wees het ons elektrisiteit nodig. Ons het skoon water en sanitasie nodig. Ons het dringend ’n vars benadering tot onderwys nodig. Dít is die probleme van ons era en dit is hierin waar die geleenthede vir die toekoms lê.”

Sy het gesê pleks dat mense bang is vir die toekoms en die onsekerhede wat dit meebring, moet hulle ophou praat oor alles wat skeef kan loop en begin dink wat hulle kan doen om dit reg te laat loop. “Ons moet die toekoms kolonialiseer met nuwe idees.”

Williams het gewaarsku dat Suid-Afrikaners so gewoond geraak het aan verandering en probleme dat hulle dit gelate aanvaar asof hulle niks daaraan kan doen nie. “Pasop vir ’n gesindheid dat dinge maar sal uitdraai soos dit moet. Dink aan die toekoms, beplan daarvoor, kom met idees en ruil dit met mekaar uit. Onthou, selfs Marxisme was ’n idee en kyk hoeveel veld het dit gewen, of dit nou ’n goeie of slegte idee was.”