Mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, het op die maatskappy se jaarvergadering op Malmesbury gesê die maatskappy maak meer bruto wins uit pasteie, wat deur sy kleinhandelsvertakkings verkoop word, as met sement.

Toe die onderneming destyds groter beleggings in die kleinhandelsektor gemaak het, het verskeie boere gemor omdat die maatskappy sy oog van die landbou afhaal.

“Mense vra ons hoekom ons in kleinhandel is. Wel, die afgelope jaar het ons 50% meer bruto wins-rande gemaak uit pasteie as uit sement. Dis hoekom ons daarin is,” het hy gesê.

Volgens hom mik die maatskappy daarna om oor die volgende jaar ’n miljoen pasteie, 500 000 koppies koffie en 5 miljoen bottels drinkgoed in Suid-Afrika deur The Fuel Company te verkoop.

“Boere sê vir my, maar dis kleinhandel, ons verstaan dit nie, wat beteken dit in boerdery-terme? Dan antwoord ek hulle so: Die bruto wins-rande wat ons verdien uit die verkope van ’n miljoen pasteie is die ekwivalent van wat ons verdien op byna duisend vragte misstof. Dis die ekwivalent van R200 miljoen se bemestingverkope.”

Vier afdelings

Kaap Agri bestaan uit vier afdelings, naamlik handel, The Fuel Company, Wesgraan en besproeiingsproduksie. Dié gediversifiseerde blootstelling aan ’n verskeidenheid kleinhandelsmarkte posisioneer die maatskappy goed vir sterk groei in die toekoms, meen Walsh.

Hy het gesê die handelsafdeling het die afgelope boekjaar bykans 63% tot Kaap Agri se inkomste bygedra. The Fuel Company het vir ’n verdere 27,5% gesorg. Terwyl hierdie afdelings se wins gegroei het, het Wesgraan en die besproeiings-arm deurgeloop onder die droogte. Walsh beraam die droogte het maatskappy sowat 11,3% van sy beoogde 15% groei in herhalende wesensverdienste gekos.

Kleinhandel groter as produksiemiddele

“Dis betekenisvol dat die kleinhandelkategorieë se bydrae tot handelswins nou dié van die kategorie vir die verskaffing van landbou-produksiemiddele verbygesteek het. Dit sluit aan by ons strategie om die maatskappy se blootstelling aan die sikliese aard van die verkope van landbou-produksiemiddele te verminder.”

The Fuel Company en die handelsafdeling maak die meeste van Kaap Agri se sake-eenhede uit. Sedert 2011 het sowat 50 nuwe sake-eenhede onder The Fuel Company die lig gesien. Ongeveer 20 daarvan is van die handelsafdeling oorgeskuif. Sedert 2017 het die maatskappy 16 brandstof- en kleinhandelstasies by die onderneming gevoeg.

“Ons beoog nog 15 persele vanjaar. Dit sal onder The Fuel Company, deur ons beleggings in KwaZulu-Natal en ’n paar Agrimark-persele geskied.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.