Dit is die voorspelling van prof. Peet Pienaar, vermaarde weerwaarnemer.

Pienaar het sy waarnemings oor verwagte reën vir Suid-Afrika vir 2018 aan Landbou.com verduidelik. Hy het gesê hy beskou Maart terselfdertyd as ’n belowende maand vir reën in die somerreëngebied.

Vir sy waarnemings oor die weer trek Pienaar ’n denkbeeldige lyn van Garies af oor Beaufort-Wes tot in Port Elizabeth: Hy beskou die gebied wes van dié lyn as die winterreënstreek vir die doeleindes van sy waarnemings, terwyl die oostekant van die lyn plekke in die somerreëngebied is.

Pienaar se verwagte reënvalpatrone vir die somerreëngebied vir 2018 lyk so:

* In Februarie gaan dit droog wees, met reën wat aan die einde van die maand kan voorkom. Dit kan met haelstorms gepaardgaan.

* Maart is ’n belowende maand vir reën.

* In April skuif die reën oor na die skaapgebiede in die droër dele.

* Reën, sneeu en ryp vir Mei.

* Op 13 Julie kan reën voorkom.

* Die eerste lentereën kan van 2 tot 9 Oktober val.

* Goeie buie kan van 22 tot 24 November voorkom.

* Ligte buie rondom 7 Desember, met wydverspreide buie van 23 tot 25 Desember.

Verwagte reënpatrone vir die winterreëngebied:

* Die eerste noemenswaardige kouefront kan op 2 Maart oor die Wes-Kaap inskuif.

* Die tweede noemenswaardige kouefront sal op 30 April sy verskyning maak, met goeie reën.

* Die derde noemenswaardige kouefront met reën kom teen 28 Junie.

* Die vierde noemenswaardige kouefront kan op 25 September sy opwagting maak.

* Ligter fronte kan voorkom op 31 Maart, 29 Mei, 27 Julie en 26 Augustus.

Hier is meer besonderhede oor wat Pienaar vir vanjaar vir die somer- en winterreëngebied verwag:

Februarie:

1-2: Ligte reën in die somerreëngebied.

15: Reën in verskeie gebiede van die somerreëngebied.

26-27: Goeie reën oor groot dele van die somerreëngebied. Moontlike storms, asook haelstorms.

1-2: Goeie reën in die winterreëngebied, met hoë deinings aan die kusgebiede.

15: Ligte reën oor die winterreëngebied.

27: Goeie reën oor die winterreëngebied, met hoë deinings aan die kusgebiede.

Maart:

2: Goeie reën oor die somerreëngebied, met hoë deinings aan die kusgebiede.

17: Goeie reën oor die somerreëngebied, effens winderig.

24-26: Goeie reën oor die somerreëngebied.

2: Goeie reën oor die winterreëngebied. Baie winderig.

24-27: Goeie reën oor winterreëngebied.

April:

1-2: Sagte reën oor die somerreëngebied. Winderig.

16-22: Goeie reën wat wyd oor die somerreëngebied val, asook oor die skaapgebiede – die droër dele.

16-22: Goeie reën oor die Wes-Kaap. Hoë deinings.

30: Reën in die Wes-Kaap, met hoë deinings aan die kus.

Mei:

15-17: Baie hoë deinings aan kusgebiede in die somersaaigebied. Sneeu op Kaapse berge.

1-8: Ligte reën in die winterreëngebied.

17-22: Ligte reën in die winterreëngebied.

Junie:

13-15: Baie winderig in die somerreëngebied.

28: Bewolk, met reën in die winterreëngebied. Sneeu oor die berge, met ysige wind. Hoë deinings.

Julie:

13-19: Sneeu op die berge in die somerreëngebied. Koue wind, swaar ryp.

13-17: Goeie reën, sneeu op die berge in die winterreëngebied. Winderig, met hoë deinings langs die kus. Koud.

Augustus:

10-11: Begin van Augustuswinde in die somerreëngebied.

26: Winderig, met ligte reën in somerreëngebied.

10-11: Sterk wind, met sneeu op die berge in die winterreëngebied. Wind sal aanhou vir grootste gedeelte van die maand. (Tradisionele Augustus-winde.)

September:

3-9: Bewolk en koud, met sterk wind en swaar ryp in somerreëngebied.

25: Baie koud, met ligte reën in somerreëngebied.

3-9: Koud en baie winderig in die winterreëngebied.

25: Koud, winderig, met ligte reën in winterreëngebied. Hoë deinings aan die kus.

Oktober:

5-9: Reën in die somerreëngebied.

31: Reën in die somerreëngebied.

5-9: Reënerig in die winterreëngebied. Winderig.

31: Reënerig, met wind in winterreëngebied. Hoë deinings aan die kusgebiede.

November:

23-26: Goeie neerslae in die somerreëngebied.

30: Reën in die somerreëngebied.

23-26: Reënerig in die winterreëngebied, en winderig.

Desember:

7: Ligte reën in die somerreëngebied.

23-24: Goeie reën in die somerreëngebied. Hoë deinings. Winderig.

23-24: Hoë deinings aan die kusgebiede in die winterreëngebied.

Pienaar doen sy weerwaarnemings aan die hand van verskillende bronne, onder meer volgens die posisies van die maan, en wel die perigeum- en apogeum-posisies. Die maan beweeg elke 27 of 28 dae om die aarde. “Hierdie baan is golwend in die sin dat die maan vir twee weke nader aan die aarde beweeg (perigeum) en vir twee weke weer wegbeweeg (apogeum). Waarnemings toon wanneer die donkermaan en die volmaan die naaste aan die aarde (perigeum) is, is daar gewoonlik ’n verandering in die weer. Dit is ook wanneer die meeste aardbewings en oorstromings plaasvind.”

Pienaar neem ook die volgende inligting in aanmerking: Die maanstande, veral as die maanverandering soggens plaasvind (01:00 tot 13:00); die tyd wanneer die maan in sy perigeum-posisie is; en die feit dat die volmaan op verskillende tye van die jaar “sterker” is in die suide (die winterreëngebied) en dan weer met nuwemaan in die noorde (die somerreëngebied.)

Nog belangrike inligting is die sonposisie. Dié sonsiklus duur 11 jaar, en sonwinde en -skaduwees is belangrik vir die ontstaan van reënbuie. Al die bogenoemde elemente word bestudeer en Pienaar vorm dit dan soos ’n legkaart waarmee hy ’n prentjie vir sy waarnemings kan skep.

Pienaar vra lesers se aandag om saam met hom waar te neem dat vuurspuwende berge op 2 Maart, 30 April, 28 Junie, 25 September, 23 November en 22 Desember aktief kan raak, asook dat vloede en aardbewings op of naby dié datums oor die wêreld heen sal voorkom. Die rede is die perigeum-posisies van die maan.