Só sê mnr. Chris Crause, die projek se ontwikkelingsbestuurder en die eggenoot van een van die twee oorblywende aktiewe direkteure van die maatskappy Isago @ N12 Development. Hy het Landbouweekblad Vrydagoggend uit Australië te woord gestaan.

Die koopsom vir IP (564) van 481 ha en Palmietfontein (403) van 547 ha, waaroor Landbouweekblad aanvanklik op 31 Januarie in sy plaasverkope-kolom berig het, beloop R570 525/ha in ’n gebied waar landbougrond hoogstens R20 000/ha haal. Daar is uit talle oorde vrae oor waarom die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) namens die staatspensioenfonds (GEPF) soveel opgedok het vir grond wat die Matlosana-munisipaliteit verlede jaar op slegs R25 340 000 gewaardeer het.

plaasverkoop
Die transaksie soos dit in die Landbouweekblad van 31 Januarie 2020 verskyn het

“Ons het baie mededingers daar in Klerksdorp en ek is baie seker dit is hulle wat hierdie storie nou so uit verband ruk,” sê Crause.

“Vandat ons die grond rondom 2007 ná ’n tenderproses bekom het, het ons mededingers ons reg om die Matlosana Mall te ontwikkel en die tenderproses aangeval. Ons was sewe jaar in die hof, maar ons het eindelik die saak gewen.” 

OBK genader

Crause sê hulle het die OBK genader met die grond en hul planne vir die ontwikkeling, “want ons weet die OBK stel belang in sulke ontwikkelings en hy kan dit ook maak werk. Die OBK se ondersoeke en navorsing het twee jaar geduur. Hy het ook private waardasies gekry voordat die transaksie verlede jaar Junie beklink is.”

Dat die grond as landbougrond gesoneer is, is volgens Crause nie die volle waarheid nie.

“Die grond is deel van die urban edge, soos ons sê. Dit is bedoel vir ontwikkeling. Net die helfte daarvan is nog as landbougrond gesoneer, want as dit verander word, betaal jy baie meer belasting op grond wat eers oor jare ontwikkel gaan word. Ons hou die sonering daarom so tot nader aan die ontwikkeling.”

Boonop is slegs R204 miljoen van die R586,5 miljoen aan Isago uitbetaal, sê Crause.

“Die ouens praat van groot bedrae, maar die prys was R510 miljoen, plus BTW. Van die R510 miljoen is 60% deur die OBK in ’n dokumentedepositorekening gesit. Aan daardie R306 miljoen mag ons nie vat nie, want dit is bedoel om die ontwikkeling aan die gang te kry. Kyk, die OBK het baie vereistes, ons het nie veel van ’n sê nie.”

Daarom moes Isago Holdings, ’n nuwe maatskappy, wat die oorblywende 40% van die grond besit, 1% van die aandele aan die Suid-Afrikaanse militêreveteranevereniging (Samva) gee. Crause sê die OBK wil hê dat Samva se aandeel oor die volgende paar jaar tot 50% groei.

Opgewonde

Crause sê hy is baie optimisties oor die ontwikkelings wat voorlê.

“Daar is honderde miljoene se winste om te maak. Ons het reeds vir Makro, verskeie banke en Nissan wat die ontwikkeling ondersteun. Einde Julie, begin Augustus gaan ons die grond begin breek. Pres. Cyril Ramaphosa sal daar wees om die lint te knip.”

Ingeligte bronne van Landbouweekblad is egter skepties op Crause se uitlatings en planne, en sê dat hulle nie Crause of die beoogde ontwikkeling vertrou nie.

Intussen het die Suider-Afrikaans Agri-inisiatief (Saai) gister ’n strafregtelike klag by die Brooklyn-polisiekantoor ingedien.

“Daar is ’n 2 198%-prysverskil tussen die waardasiepryse en die prys waarteen die pensioenfonds dié grond vir staatsamptenare aangekoop het. Dit is leë landbougrond wat gekoop is met die oog op verdere ontwikkeling. Die GEPF is ’n entiteit wat regeringsamptenare se pensioenfondse eerlik en verantwoordelik moet bestuur. Om so ’n reuse-eskalasie vir die transaksie te betaal, kan vir seker nie as eerlik óf verantwoordelik beskou word nie,” sê mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, gesê. Hy het die saaknommer aan die Valke deurgegee en sê Saai sal die saak fyn dophou.

Direkteure

Crause se vrou, Doreen, ’n beoordelaar van die Suid-Afrikaanse Kwiltgilde, is een van Isago @ N12 Development se twee direkteure. Doreen en haar dogter, me. Una-Marie Crause, ’n mode-ontwerper, bestuur die Karoo Boerdery Trust, wat deur sy aandeelhouding in ’n ander maatskappy, die Anglo Saxon Group, ’n 74%-belang in Isago @ N12 Development het.

chris crause
Mnr. Chris Crause en sy eggenote, Doreen. Foto: Facebook

Die oorblywende 26% van die maatskappy behoort aan Moedi Bosele, een van vele maatskappye waarin dr. Martin Ramata Khunou van Klerksdorp ’n aandeel het. Khunou het volgens maatskappyrekords ’n mediese praktyk op Klerksdorp, maar die Suid-Afrikaanse Raad van Gesondheidsberoepe sê hy is van die raad se lys geskrap omdat hy nie teen 31 Maart 2019 sy jaarlikse registrasiegeld betaal het nie.