Afrika-perdesiekte het verder in die Wes-Kaap versprei ná nog twee perde in die Wes-Kaap gevrek het.

Nóg vyf in die Paarl-omgewing is positief getoets vir die siekte, waarvan drie op die Schoongezicht-plaas naby die Paarl. Twee ander gevalle is op omliggende plase positief getoets.

“Al die gevalle het plaasgevind binne die insluitingsone en soos die veeartse voorspel het, het die siekte saam met die windrigting wat die siektedraende muggies versprei,” sê mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van landbou.

Die insluitingsone, wat einde April hersien is, sal volgens Winde, steeds tot verdere kennisgewing in plek bly.

Afrika-perdesiekte moet dringend in die Wes-Kaap beheer word, aangesien Suid-Afrikaanse perde van daar na Europa, via Mauritius, uitgevoer word, en weens hierdie gevalle sal die verbod op internasionale beweging waarskynlik nie voor 2018 gelig word nie.

“Die grootste besending perde was einde laas jaar uit die Wes-Kaap na die Verenigde Arabiese Emirate en Europa uitgevoer, in samewerking met die die departement se veeartsenydienste-program,” sê Winde. “Om op hierdie sukses voort te bou, moet ons alle pogings aanwend om te verseker dat ons dierebevolking siekteloos bly.”