Die georganiseerde landbou het produsente oor die jongste maatreëls ingelig en sommige boere het werkers vroeër as gewoonlik vir die maand betaal sodat hulle betyds voor die inperking voorbereiding en inkopies kon doen.

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê verskeie produksiebedrywe is egter nie van die regulasies vrygestel nie.

’n Groot probleem word in die wynbedryf ondervind waar die oes van wyn- en rosyntjiedruiwe nou afgehandel moet word. Dit is ook parstyd by wynkelders en die belangrike proses van gistende druiwe in wyntenks kan nie sonder toesig gelaat word nie.

Mnr. Charl du Plessis, uitvoerende hoof van Oranjerivier-wynkelders (OWK) op Upington, sê druiweproduksie in die benede-Oranjeriviergebied sou normaalweg nog ’n week langer geduur het, maar dié oesproses is in aanloop tot die inperking versnel. Produsente sal na verwagting die oes voor die spertyd om middernag afhandel.

Die totale druiweproduksie vir die gebied is volgens sy skatting sowat 83 000 ton. Sowat 77 000 ton moet aan die OWK gelewer word.

“Weens rypskade in wingerde van sowat gemiddeld 15% in Oktober 2019, is vanjaar se oes heelwat swakker as normaalweg,” sê hy.

Du Plessis sê die Wes-Kaapse wynbedryf word erger deur die inperkingsmaatreëls geraak omdat die lewering van dié gebied se druiweoes nog sowat twee weke kan duur.

Ander bedrywe

Ander bedrywe wat ook nie van die regulasies vrygestel is nie, is die wol- en bokhaarbedryf, bosbou, katoen en tabak.

Die inperking wat vannag om middernag in werking tree, raak nie die landbouproduksie so omvattend soos dit in die midsomer se stroop- en planttyd sou nie. Produsente is nou besig met onder meer voorbereidings, onkruidbestryding en instandhoudingswerk aan werktuie.

Die veebedryf beskik nie oor ’n intensiewe werksmag nie, maar diere moet versorg en behandel word.

Volgens Van Zyl kan boere Agri SA se standaardbrief wat aan sy affiliasies beskikbaar gestel is, gebruik om toestemming te gee vir die beweging van werkers na en van die plase waar hulle werk. “Die polisie het die geldigheid van dié toestemmingspermit bevestig,” sê hy.

Agri SA wag nog net vir die vervoerregulasies wat na verwagting vandag uitgereik sal word. Dit sal bepaal hoeveel mense per geleentheid en onder watter omstandighede vervoer mag word.

Noodnommers wat produsente kan skakel om onduidelikhede uit te klaar, sal ook op Agri SA se webwerf en op sosiale media versprei word.