Bewerings van wreedheid en die mishandeling van Angorabokke word tans uit talle oorde gemaak nadat Peta 'n video en 'n skokverslag op sy webwerf gepubliseer én 'n wêreldwye veldtog van stapel gestuur het.

Peta het na bewering ook groot modehuise genader en voorgestel dat hulle bokhaar in geheel moet boikot. Met die publikasie van sy veldtog, Groundbreaking Exposé: Goats Thrown, Cut, and Killed for Mohair, het maatskappye soos die Arcadia Group (met handelsmerke soos Topshop), Gap Inc. en Inditex (waaronder Zara) reeds aangekondig dat hulle bokhaar in die toekoms sal verban. 

Ten spyte daarvan dat die Peta-bevindinge nie verder ondersoek of bevraagteken is deur die bogenoemde handelshuise nie, het bykans 70 handelaars tot dusver standpunt ingeneem teen die gebruik van bokhaar in hul produkte.

Van die 12 plase wat Peta glo in Januarie en Februarie vanjaar ondersoek het, kon net twee in die beeldmateriaal geïdentifiseer word. 

Die Peta-verteenwoordiger het plase van Suid-Afrika se topbokhaarprodusente besoek en hul skeermetodes aanskou. Die verteenwoordiger het egter volgens een van die boere by wie besoek afgelê is, “gekies om die beste praktyke en metodes te ignoreer” en eerder uittreksels te gebruik van die ergste, geïsoleerde gebeure wat hy kon verfilm.

Diereregte-organisasies bevraagteken ook die groep se motiewe. Volgens me. Grace de Lange van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se lewendehawe-afdeling is die DBV in die duister gehou gedurende die Peta-ondersoek. 

“Die beeldmateriaal is reeds in Januarie en Februarie verfilm. Ons wonder hoekom Peta nie dadelik die mishandeling aan ons bekend gemaak het sodat ons dit kon ondersoek nie,” sê De Lange. 

DBV-ondersoekbeamptes wat die plase in April besoek het, kon nie bewyse van mishandeling vind nie. De Lange sê egter dat die DBV “sterk gekant is teen die manier hoe diere in die video behandel word en dat dié kwessies getakel sal word”. 

Die saak word ondersoek en 'n vergadering met Sybokhaar Suid-Afrika (SSA) sal binnekortgehou word. 

SSA sê ook dat hy geensins genader is om op te tree rakende die probleme wat die video uitlig nie. Inteendeel, Peta het SSA daarvan beskuldig dat hy lasterlike aanmerkings teenoor Peta gemaak het ná die publikasie van die video. 

PETA se bewerings sluit egter die frases “Goats die so we can have mohair” en “Goats killed for mohair” in – stellings wat feitelik verkeerd is. 

Dit is algemeen bekend dat Angorabokke twee keer per jaar geskeer word om die haar te verwyder. In Suid-Afrika word die proses streng gereguleer volgens die produksieriglyne wat deur wêreldbekende etiek- en volhoubaarheidsowerhede, soos Ecocert, Green Choice Alliance, Conservation International en die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA), goedgekeur is.

Volgens mnr. Deon Saayman, besturende direkteur van SSA, is dit egter ongelukkig die bewerings van wreedheid wat by die publiek vassteek en die meeste skade berokken aan 'n bedryf wat werk aan talle Suid-Afrikaners verskaf.

Hy sê dat Peta SSA se werk as die kurator van die sybokhaarbedryf in Suid-Afrika belemmer deur geen inligting aan hom deur te gee nie, maar eerder uit sy pad gaan om te keer dat die gebeure wat in die video en verslag uitgebeeld word, uitgeklaar kan word.

Saayman het bevestig dat die boere wat in die video geïdentifiseer kon word, se betrokkenheid by SSA opgehef is tot en met verdere ondersoeke voltooi is. Die boere is ook belet om hul bokhaar op die laaste veiling te verkoop. 

SSA sê daar is in die afgelope dekade groot klem gelê op die instelling en regulering van volhoubare en etiese produksiepraktyke.

“Die maatreëls word ingestel deur derdeparty-ouditeure en sal in die toekoms uitgebrei word met die samewerking van dierebeskermingsorganisasies.”

Saayman sê hoewel baie van Peta se bewerings verkeerd is, daar wel geïsoleerde probleme wat ondersoek en gepak sal word. 

Volgens me. Jennifer White, mediakoördineerder by Peta in Brittanje, is 'n strafregtelike klag van dieremishandeling deur sy tak in Amerika gelê. Die organisasie het egter geweier om enige ander inligting oor die gebeure – watter plase besoek is, wie die werkers op die video is en aan wie die bokhaar verskaf is – bekend te maak. Dit is ook onduidelik teen wie die klag van dieremishandeling gelê is. 

Volgens me. Gay van Hasselt van die Van Hasselt-boerdery by Prins Albert en een van Suid-Afrika se beste sybokhaarprodusente, kan die video duisende mense – en diere – se lewens verwoes indien die saak nie beter ondersoek word nie. Sy sê ook dat dit 'n skande is dat die media én modehuise die verslag sonder enige ondersoek as die waarheid aanvaar het.  

“Angorabokke móét elke ses maande geskeer word om te keer dat hulle aan doringtakke en bosse vassit en sodoende nie by kos of water kan uitkom nie. As dit nie gedoen word nie, sal hulle ook nie hul lammers kan voed nie en selfs ook nie kan sien waar hulle loop nie,” sê sy.

Om 'n Angorabok te skeer, is nie kommersiële uitbuiting nie, al wil Peta dit so laat lyk. 

Volgens mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder van sybokhaar by Cape Mohair & Wool (CMW), het die Peta-video geen impak op die onlangse produksieveiling gehad nie. Hy sê newe-effekte van die boikot sal eers met die aanvang van die winterseisoen in Augustus waargeneem kan word.

Die bokhaarbedryf bied tans werk aanr meer as 30 000 mense en bring jaarliks buitelandse valuta van R1,5 miljard vir Suid-Afrika in.

Sybokhaarproduksie word ook beskou as een van die mees volhoubare veselproduksiebedrywe ter wêreld. Sowat 800 Angoraboere lewer meer as 50% van die wêreld se sybokhaar, hoofsaaklik vanaf die Suid-Afrikaanse Karoo.