Suid-Afrika het geen geregistreerde plaagdoder om die uiters skadelike piesangplantluis wat bekend vir sy vinnige verspreiding is, doeltreffend te bestry nie.

Die plantluis versprei die piesangbossiekte (Engels: banana bunchy top virus, BBTV) wat piesangs in 'n oogwink in ’n radius van 10 km kan uitwis.

Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê dit is onbekend hoe die BBTV die land binnegekom het nie. Die virus is verlede jaar vir die eerste keer op ’n plaas naby Hibberdene aan die Suidkus van KwaZulu-Natal waargeneem.

Siekte verlede jaar aangemeld

Volgens Mlengana het die Landbounavorsingsraad die siekte reeds in Julie verlede jaar by sy departement aangemeld.

Die piesangbedryf en die plaaslike regering het ’n komitee gevorm wat ’n aksieplan opgestel het om die verspreiding van die virus in te perk.

Mlengana het aangedui dat piesangs in dorpies rondom Hibberdene reeds deur die virus besmet is en ’n afbakeningsopname word verlang om die verspreiding te bepaal. Só ’n opname sal tussen R50 000 en R100 000 per maand kos.

By Kiepersol voorgekom

Die LNR dui aan dat Suid-Afrika in 1996 slegs in die Kiepersol-omgewing van Mpumalanga ondersoek ingestel het of die virus in die land voorkom. “Geen ander opname is sedertdien in Suid-Afrika gedoen nie.”

In Junie verlede jaar het vyf Williams-kultivars simptome van BBTV getoon. Hierdie plante het positief vir BBTV getoets.

Die LNR sê in sy verslag rakende die siekte dat baie streng fitosanitêre maatreëls in ander dele van die land nodig is om die verspreiding van die virus te voorkom.