Dié projek, onder die bestuur van die Harper Adams-universiteit en Precision Decisions, ’n landboumaatskappy, het in 2016 die lig gesien. Die doel van die navorsing was om ’n oes te plant, te bestuur en af te haal sonder trekkeroperateurs of grondkundiges “op die grond”.

Hulle het hul doelwit bereik en het twee suksesvolle bewerkingsiklusse agter die rug, waarvoor hulle met verskeie eerbewyse beloon is. Danksy die sukses van HFHa het Innovate UK, ’n Britse regeringsorganisasie, geld beskikbaar gestel vir die skep van ’n handewerkvrye plaas van 35 ha.

Die nuwe projek sal drie jaar duur en bring ’n nuwe vennoot aan boord – die Britse afdeling van die Australiese presisieboerderymaatskappy Farmscan AG. Dit is op die universiteit se Shropshire-kampus geleë. “Ons beweeg nou verby die lewensvatbaarheidstudie wat die projek ons gebied het, tot ’n visie vir die toekoms van boerdery. Dié keer beoog ons om drie aanvullende gewasse op 35 ha aan te plant,” sê mnr. Jonathan Gill, ’n navorser by die universiteit.

“Ons kyk daarna om probleme met vlootbestuur, die logistiek rakende swermvoertuie, asook navigasie op te los met die plaas,” sê mnr. Martin Abell, ingenieur van Precision Decisions. “Ons glo steeds kleiner voertuie werk die beste, en ons gaan dus tot drie klein trekkers vir die projek gebruik. Dié keer beweeg ons weg van die perfekte hektaar na werklike situasies. Die lande sal onreëlmatig wees, met hindernisse soos ongelyke grond. Ons beheer die hantering van die voertuie en die databestuur deur ons MiFarm-platform.”

Mnr. Callum Chambers, bestuurder vir bedryfsontwikkeling by Farmscan AG, sê hulle hoop om op die grondslag van HFHa te bou deur hul tegnologie, wat reeds in die landboubedryf toegepas word, met ’n ontwikkelende outonome platform te integreer.

Só kan presisiebeheer reg oor ’n plaas verskaf word. “Ons doel is dat talle klein, onbemande voertuie moeiteloos op dieselfde lande werk, almal van ’n afstand gemonitor en besig om die take af te handel wat jy in ’n kommersiële boerdery verwag. Navigasiepaaie en paadjies tussen lande is ’n opwindende nuwe uitdaging. Ons wil werklike toestande hê waar lande dikwels ver van mekaar geleë is.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.