Die aanmelding en vervolging van diegene wat hulself op sosiale media of enige ander platform aan haatspraak skuldig maak of moord en marteling verheerlik, vorm deel van die 16 stappe wat die DA se landelike veiligheidstrategie vorm.

Me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP, sê die party beskou dié tipe inskrywings as gruwelik en dat die mense wat hulle geplaas het, verantwoordelik vir hul “giftige en haatlike uitlatings” gehou moet word.

Sy sê navorsing toon dat daar ’n korrelasie is tussen haatspraak en ’n toename in plaasaanvalle wat gewoonlik met wrede marteling gepaard gaan. “Daar is ’n opmerklike toename in aanvalle op mans, vroue en kinders van alle rasse kort nadat sulke uitlatings gepubliseer word.”

Die DA het onlangs versoek dat plaasaanvalle en -moorde as haatmisdade verklaar moet word.

Die ANC het in 2001 ’n ondersoek na plaasaanvalle gedoen en tot die gevolgtrekking gekom dat die meeste aanvalle bloot rooftogte was en nie deur politiek of rassehaat gemotiveer is nie. “Dit wil voorkom of die resultate van die ondersoek as sodanig ’n politieke stelling was en dat ’n nuwe ondersoek dringend nodig is aangesien daar tans gereeld berigte verskyn oor aanvallers wat hul slagoffers wreed martel, maar die toneel verlaat sonder om enigiets te steel.”

Sy sê dit is ongelooflik dat diegene wat hulself verlekker in die idee van die verkragting en moord van boere en plaaswerkers se vroue en kinders selde in die hof verskyn. “Hierdie walglikheid is al by tye geromantiseer en aangemoedig deur politici en diegene wat hulself daaraan skuldig gemaak het, is nie vervolg nie.

“Die DA sal verseker dat hulle vervolg word. Vir die polisie om ‘diefstal van ’n beursie’ op hul rekords te plaas terwyl ’n boer ure lank gemartel is, moet stop. Dit is nie ’n rooftog nie – dit is ’n haatmisdaad.”

Sy sê om boere as die sondebokke vir die ANC se mislukkings in werkskepping, onderwys, behuising en die aanspraak van hongersnood voor te hou, is ’n gerieflik politieke taktiek wat mense hul lewens kos.

“Boere, plaaswerkers en hul geliefdes is verantwoordelik om ons nasie te voed en voedselsekerheid te verseker. Die sinlose moord en marteling van hierdie gemeenskappe moet ophou en diegene wat hierdie gruweldade verheerlik, moet vervolg word.”