Dié statistiek word vir ’n kalenderjaar bygehou, verduidelik genl.maj. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van die TLU SA.

“In 2018 is 382 aanvalle en 53 moorde op plase aangeteken. In 2017 het ons 423 aanvalle en 80 moorde aangeteken,” sê Van Zyl. “Hierdie statistiek is gegrond op die polisie se definisie van ’n plaasaanval en plaasmoord.”

Van Zyl sê hoewel minder aanvalle aangeteken is, het veral diefstal van brandstof, chemiese produkte en veediefstal op plase skerp gestyg. “Die statistiek rakende geweldsmisdaad vertel een storie, maar as ’n mens al die verskillende misdade in ag neem, skets dit ’n donkerder prentjie.”

Veediefstal

Klagtes oor veediefstal het toegeneem gedurende die afgelope feestyd, sê mnr. Johan Stadler, ondervoorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum. “Die klagtes het einde November 2018 begin toeneem, veral met veilingsmaatskappye wat begin sluit het en die groter vraag na vleis met die naderende feestyd.”

Volgens Stadler ontvang hulle tans baie klagtes oor vee wat van 21 tot 30 Desember 2018 gesteel is. “Dis nie net enkele diere wat vir onder meer die pot gesteel is nie, maar tientale diere op ’n keer. Dus is die misdadigers georganiseerd.”

Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê daar was drie voorvalle in die derde week van Desember waartydens groot getalle skape op verskillende plase in die Heilbrondistrik, waar hy boer, gesteel is. “In die eerste voorval is 71 skape gesteel, in die tweede voorval 67 skape en in die derde voorval 89 skape.”

Rondloperdiere en stokvelle

Esterhuyse sê boere en lede van landelike gemeenskappe moet let op rondloperdiere wat langs openbare paaie gesien word, iets wat die afgelope paar weke toegeneem het. “In verskeie voorvalle is dié diere by die owerhede aangemeld, en by nadere ondersoek is gevind dit is gesteelde vee waarna gesoek word.”

Hy moedig boere aan om hul werkers behoorlik in te lig oor die risiko’s wat ’n stokvel vir hul veiligheid kan inhou. “Daar was ’n toename in aanvalle op plaaswerkers omdat hulle ’n stokvel se groot kontantbedrae by hul huis gehou, en booswigte daarvan uitgevind het.” Esterhuyse sê werkers moet ingelig word dat hulle die stokvel as vertroulik tussen die deelnemers moet hanteer, en dat hulle die geld liefs in ’n bankrekening moet hou.

Die polisie se omkeerstrategie om landelike veiligheid in Suid-Afrika te bevorder, sal in Februarie vanjaar bekend gestel word. Esterhuyse sê hulle is hoopvol misdaad sal met dié strategie en met die samewerking van al die rolspelers doeltreffend bekamp kan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.