Geweldadige aanvalle op mense wat op plase in Suid-Afrika woon en werk haal gereeld die hoofberigte in plaaslike en internasionele media. Hierdie feitestaat, nagevors en saamgestel deur Africa Check, sit die beskikbare statistiek uiteen en stel ondersoek in na die beperkinge van dié statistieke.

Aanvalle op mense wat op plase en kleinhoewe in Suid-Afrika woon en werk is 'n emosionele onderwerp.

In 'n 2017-debat in die Suid-Afrikaanse parlement is die aanvalle beskryf as "nie normale misdade nie", "misdaad aangevuur deur haat" en "uiters gewelddadig en gaan dikwels gepaard met onmenslike marteling in die mees barbaarste wyse". Hierdie feitestaat sit die beskikbare navorsing oor die onderwerp uiteen en ondersoek die beperkinge.

Definisies:  Wat

Die terme "plaasaanval" en "plaasmoorde" word algemeen gebruik om te verwys na "sekere misdade gepleeg op plase en kleinhoewes", het majoor-generaal Sally de Beer, hoof van kommunikasie en skakeling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, aan Africa Check gesê.

Die amptelike definisie is formeel in 1997/98 bekend gestel en is saamgevat in die polisie se landelike veiligheidstrategie: "Geweldsdade teen persone of plase en kleinhoewes verwys na dade gemik op 'n persoon/persone wat op plase en kleinhoewes woon, werk, of besoek, hetsy met die bedoeling om te moor, verkrag, besteel of liggaamlike leed aan te doen.

"Daarbenewens word alle geweldsdade teen die infrastruktuur en eiendom in die landelike gemeenskap, gemik op die ontwrigting van wettige plaasaktiwiteite as 'n kommersiële belang, hetsy die motiewe verwant is aan ideologie, gronddispuut, grondkwessies, wraak, griewe, rassekwessies of intimidasie, ingesluit.

"Indirekte dade" - soos intimidasie, brandstigting en kwaadwillige skade aan eiendom - is ook ingesluit, toon 'n 2016-polisievoorlegging aan die parlement. Geweld wat betrekking het op "huishoudelike geweld of alkoholmisbruik, of as 'n resultaat van alledaagse sosiale interaksie tussen mense" is nie ingesluit onder plaasaanvalle nie.

Daar is egter geen amptelike misdaadkategorie genaamd "plaasaanval" of "plaasmoord" nie. Die misdade genoem in die definisie - soos moord, verkragting en aanranding - word aangeteken by die polisiestasie wat dit ondersoek.

De Beer verduidelik dat polisiestasies dan die insidente wat voldoen aan die definisie gelys by hoofkantoor moet aanmeld, of vir insluiting by 'n afsonderlike, alleenstaande databasis.

Waar

'n Eiendom moet betrokke wees by landbou voor 'n aanval of moord as 'n daad "van geweld teen persone op plase en kleinhoewes" aangeteken word, verklaar die polisie se landelike veiligheidstrategie.

'n Plaas word gedefinieer as "'n stuk grond met geboue wat gebruik word vir landbou- en veedoeleiendes, insluitende veeposte en landelike dorpies waar bestaansboerdery plaasvind".

'n Kleinhoewe is 'n "landbouhoewe kleiner as 'n plaas". Kleinhoewes "waarop geen landbou-aktiwiteite plaasvind" of dié wat "hoofsaaklik residensieel" is, word uitgesluit by die definisie.

Somtyds word aanvalle en moorde wat nie aan die polisie se definisie voldoen nie deur die media as plaasaanvalle en -moorde uitgebeeld. Byvoorbeeld die moord vroeg in 2017 op twee persone op 'n Nottinghamweg-landgoed in KwaZulu-Natal is in die media oor berig as 'n plaasmoord.

Die polisie het egter aan Africa Check gesê dat dit nie as 'n plaasmoord aangeteken is nie, want die misdaad het in 'n behuisingslandgoed plaasgevind en daar was geen landbou-aktiwiteite op die eiendom nie.

Beskikbare statistiek

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het nie voor 1997 statistiek oor aanvalle en moorde op plase en kleinhoewes versamel nie.

1991 - 1997

'n Aantal landbou-organisasies het egter statistiek versamel. Agri SA, voorheen die Suid-Afrikaanse Landbou-unie,  het 677 moorde en 3 065 aanvalle tussen 1991 en 1997 geregistreer. Die unie het hul "inligting hoofsaaklik, alhoewel nie eksklusief, verkry by plaaslike landbouverenigings en die klem val waarskynlik op kommersiële boere eerder as op, byvoorbeeld, kleinhoewe-eienaars wat nie by die landbouverenigings geaffilieer is nie," volgens 'n 2003-ondersoekkomitee na plaasaanvalle.

Die ondersoekkomitee is in 2001 deur die polisiekommissaris aangestel om "ondersoek in te stel na die voortgesette aanvalle op plase, wat insluit geweldsdade soos moord, roof, verkragting, ens. om die motiewe en faktore agter hierdie aanvalle te bepaal en aanbevelings te maak oor hul bevindinge".

Weens die klem op kommersiële plase, betwyfel die kommittee of "alle aanvalle op ander plaasinwoners, wat nou as 'n plaasaanval kwalifiseer ingevolge die definisie, by hul statistiek ingesluit is".

Plaasaanvalle en -moorde aangeteken deur Agri SA

Let wel: Die akkuraatheid van hierdie statistiek word bevraagteken deur die 2003-ondersoekkomitee na plaasaanvalle. Bron: Plaasaanval-ondersoek

1997 - 2001

Plaasaanvalle en -moorde aangeteken deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se analise-sentrum vir misdaadintelligensie

Let wel: Die akkuraatheid van hierdie statistiek word bevraagteken deur die 2003-ondersoekkomitee na plaasaanvalle. Bron: Plaasaanval-ondersoek

In 1997 het die polisie se analise-sentrum vir misdaadintelligensie data begin insamel oor plaasaanvalle, maar het aan die 2003-ondersoekkomitee gesê hulle glo nie elke misdaad word opgeteken nie.

In 1998 is plaasaanvalle en -moorde 'n prioriteitsmisdaad gemaak met sy eie prioriteitskomitee - soos ander prioriteitsmisdade soos bendegeweld, taxi-geweld en transito-rooftogte. Die polisie se Nasionale Operasionele Koördinerende Komitee begin statistiek van hul eie insamel.

Plaasaanvalle en -moorde aangeteken deur die Nasionale Operasionele Koördinerende Komitee

Let wel: Die akkuraatheid van hierdie statistiek word bevraagteken deur die 2003-ondersoekkomitee na plaasaanvalle. Bron: Plaasaanval-ondersoek

Die 2003-ondersoekkomitee kom tot die gevolgtrekking dat geen van die statistieke tussen 1991 tot 2001 versamel heeltemal akkuraat is nie en met sorg beskou en geïnterpreteer moet word.

2002 - tans

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het statistiek oor plaasaanvalle en -moorde tot 2006/07 versamel en bekendgemaak, maar het nie weer enige statistieke bekendgemaak tot 2010/11 nie. Die jongste syfers is vir die eerste drie kwartale van 2016/17. Dit toon dat daar 457 aanvalle op kleinhoewes en plase was, met 46 mense wat vermoor is.

De Beer het aan Africa Check gesê dat "die databasis 'n "lewende" stelsel is, wat beteken dat die statistiek wat daaruit verkry word onderhewig is aan verandering, soos nuwe inligting oor sake aan die lig kom. Die databasis is nie hoofsaaklik bedoel as 'n bron van statistiek nie, maar as 'n bedryfshulpmiddel."

Dade van geweld op plase en kleinhoewes in Suid-Afrika aangeteken deur die polisie

Let wel: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het nie statistiek tussen 2007/08 en 2009/10 vrygestel nie.

Bron: Suid-Afrikaanse Polisie

Privaat ingesamelde statistieke

'n Aantal privaat organisasies en landbouhandelsunies het hul eie statistieke oor plaasmoorde en -aanvalle versamel. Wanneer hierdie statistieke aangehaal en geïnterpreteer word, is dit belangrik om te kyk na die definisie wat gebruik is om insidente te identifiseer. Dit mag verskil van die amptelike statistiek wat deur die polisie vrygestel is.

Afriforum-navorsingsinstituut

Die Afriforum-navorsingsinsituut het statistieke vir 2016/07 versamel en geassesseer. Hulle het 357 aanvalle en 74 moorde tussen 1 April 2016 en 31 Maart 2017 aangeteken. Die polisie se statistiek verskil en toon 457 aanvalle vir die eerste nege maande van daardie boekjaar. 'n Totaal van 46 moorde is aangeteken.

Die instituut se verslag toon aan dat hul statistiek versamel is deur tradisionele en sosiale media te monitor. Hulle maak ook staat op sekuriteitsnetwerke en slagoffers om aanvalle direk aan te meld.

Lorraine Claasen, skrywer van die verslag en navorser by die instituut, het aan Africa Check vertel dat hulle insidente aanteken wat op residensiële kleinhoewes en landelike plotte voorkom, wat verskil van die polisie se definisie.

TLU SA

Die unie se assistent-hoofbestuurder, Chris van Zyl, het statistieke oor plaasaanvalle en -moorde aan Africa Check gegee wat hulle sedert 1990 versamel het. Hy het gesê dat hulle insidente versamel het soos gedefinieer deur die polisiediens se landelike veiligheidstrategie, naamlik dat daar landboubedrywe op die eiendom moet wees.

Die statistiek word egter per kalenderjaar versamel en nie per boekjaar nie, wat vergelyking met die polisie se statistieke vergemoeilik. Die unie is in die proses om dit om te skakel sodat dit ooreenstem met die polisie se boekjaar. Tot dusver het hulle 2012/13 tot 2016/17 omgeskakel.

Hulle het ook 'n uiteensetting verskaf van of slagoffers boere, familie, werkers of besoekers was. Van Zyl sê dat die boere gelys as vermoor kommersiële boere of boere van nie-kommersiële plase en kleinhoewes kan wees. Die unie se statistiek verskil van die amptelike polisie-statistieke. Tussen 2012/13 en 2015/16 het die polisie meer aanvalle aangeteken as die unie, maar minder moorde.

Plaasaanvalle en -moorde aangeteken deur Agri SA

Let wel: Die akkuraatheid van hierdie statistiek word bevraagteken deur die 2003-ondersoekkomitee na plaasaanvalle. Bron: Plaasaanval-ondersoek

Wie is die slagoffers van plaasaanvalle?

Ras

"Die statistiek word nie volgens ras gehou nie", het De Beer aan Africa Check gesê, "aangesien ras nie noodwendig genoem word in die insidentverslae wat van die stasies verkry word nie."

Die jongste analise van plaasaanvalslagoffers volgens ras is in die vroeë 2000's gedoen. In 2001 het die polisie se analise-sentrum vir misdaadintelligensie onthul dat, van die 1 398 mense wat op plase aangeval is, 61,6% wit was, 33,3% swart, 4,4% Asiaties en 0,7% gelys as "ander".

Die data is nou meer as 15 jaar oud en daar moenie aangeneem word dat dit verteenwoordigend is van die huidige situasie nie.

Status

Net so, sê De Beer, het die polisie nie inligting ingesamel oor die status van die slagoffers van plaasaanvalle nie - of hulle boere, familielede of werkers, onder andere, is nie.

Die 2001-analise deur die analise-sentrum vir misdaadintelligensie het bevind dat 69,7% van die slagoffers boere of hul familielede was, 29,5% was werkers of hul familielede en 0,9% was besoekers. Van die 1 398 slagoffers was 59,2% manlik en 40,8% vroulik.

Die probleem met die berekening van die plaasmoordkoers

Twee syfers is nodig om 'n misdaadkoers te bereken: die aantal gevalle en die bevolking geraak. Die polisie se jongste statistiek toon dat daar 49 plaasmoorde in 2015/16 was.

Volgens die amptelike definisie kan die slagoffers insluit mense "wat woon, werk of besoek aflê op plase en kleinhoewes". Kenners sê dit is moeilik om hierdie totale bevolking te beraam, indien nie onmoontlik nie.

"Dit kan problematies wees om 'n beraming te gebruik van al die mense wat op plase woon, afhangende van watter data gebruik is vir moorde en aanvalle," sê Gareth Newham, hoof van die misdaad- en justisieprogram by die Instituut vir Sekerheidstudies.

Dit is hoogs waarskynlik dat al die syfers vir plaasaanvalle en moorde op plase wat deur georganiseerde landbou en die SAPS ingesamel is, nie al die aanvalle of moorde op persone wat nie boere is nie bevat nie".

Totdat 'n akkurate beraming van die aantal mense wat "woon, werk of besoek aflê op plase en kleinhoewes" vrygestel is, sal dit nie moontlik wees om 'n plaasmoordkoers te bereken nie.

(Let wel: Lees Africa Check se analise vir 'n gedetailleerde verduideliking van die probleme geassosieer met die berekening van 'n plaasmoordkoers.)

Is daar 'n politieke agenda agter die aanvalle?

Die 2003-ondersoekkomitee na plaasaanvalle het 3 544 gevalle ondersoek wat aangeteken is deur die Nasionale Operasionele Koördinerende Komitee tussen 1998 en 2001 om die motiewe agter die plaasaanvalle te bepaal.

Die komitee se verslag erken "natuurlik mag meer as een faktor 'n plaasaanval motiveer of veroorsaak dat 'n aanvaller 'n spesifieke plaas uitkies ... daarom probeer (die komitee) om die gevalle te identifiseer waar die klaarblyklike primêre of hooffokus roof, intimidasie, polities of ras- of arbeidsverwant was".

Die komitee kon 'n duidelike motief in 2 644 gevalle indentifiseer. Die data is egter meer as 15 jaar oud en daar moenie aanvaar word dat dit verteenwoordigend is van die huidige situasie nie.

-  Navorsing: Kate Wilkinson (Africa Check)

  • Wilkinson is 'n senior navorser by Africa Check, 'n onafhanklike navorsingsorganisasie wat feite nagaan wat met nuusstories verband hou. Besoek hulle webwerf by africacheck.org of lees die oorspronklike hier.