Die risiko wat die gebruik van kontant op plase inhou, het weer aan die lig gekom nadat mnr. Jeremias Macheque (39), ’n plaasvoorman by JJ Bekker-Boerdery op Toitskraal in die distrik Marble Hall in Limpopo, Saterdag doodgeskiet is terwyl hy besig was om sowat 60 plaaswerkers se lone te betaal.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou, sê daar is al gevind dat die gebruik van elektroniese bankdienste ’n groot invloed op goeie finansiële bestuur van verskeie boerderypraktyke in landelike gebiede het. Gebrekkige selfoonseine en beurtkrag maak dit egter soms onbetroubaar, en daarom maak sommige boere steeds op kontant staat.

“Boere se frustrasie is groot as hulle nie per selfoon kan kommunikeer nie.  As betaaldag aanbreek, wil werkers betaal word. Swak selfoonseine is veral ’n probleem vir boere na aan die Lesothogrens en dit het ’n groot impak op hul veiligheid.

“Dit is ’n kwessie wat meer aandag moet kry. Twee weke gelede het ’n brand op ’n plaas by Bothaville uitgebreek. Weens beurtkrag was die selfoontoring af en die boer moes na sy naaste buurman ry wat deur sy radio hulp kon ontbied.”

Buys sê sommige boere doen ook kontantverkope op hul plaas, wat die indruk skep dat kontant in die plaashuis gehou word. “Veral ouer boere moet eerder aanlyn bankdienste probeer gebruik as om kontant van kopers te neem.”

Mnr. Piet Engelbrecht, president van Agri Limpopo, sê kontant lok aanvallers na plase. “Daar moet weggedoen word met die gebruik van kontant op plase. Die laaste paar aanvalle in ons provinsie was op boere wat kontantverkope doen. Daar is baie ander stelsels beskikbaar, sodat dit nie nodig is om van kontant gebruik te maak nie.”

Mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van die veiligheidskomitee van  TLU SA, sê daar was oor die jare heen baie plaasaanvalle weens kontant wat op plase gehou word. “Ons aanbeveling is dat boere moet wegdoen met kontantbetalings. Die tegnologie is daar om vir jou werkers ’n kaart te gee indien hulle die nodige dokumentasie het.”

Volgens hom is kontant veral algemeen wanneer boere ongedokumenteerde of tydelike werkers in diens neem. Kontantverkope skep ’n verdere risiko. “ ’n Mens kan dit eenvoudig nie meer doen nie. Jy maak van jouself ’n teiken. Dit is tot boere se voordeel om weg te doen met kontantbetalings en -verkope.”