Só sê me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP, nadat Ramaphosa in sy nuutste nuusbrief hierdie week gesê het dat die moord op Brendin Horner (21) almal moet ontstel en kwaad maak.

Sy sê Ramaphosa het 746 dae gelede in ’n onderhoud in New York gesê dat boere nie in Suid-Afrika vermoor word nie. “In dieselfde jaar dat hy hierdie aanspraak gemaak het, was daar 394 plaasaanvalle en 56 plaasmoorde. In 2019 was daar 419 aanvalle en 56 moorde. En in 2020 was daar tot dusver sowat 200 aanvalle en meer as 50 moorde.”

Die DA het in Junie vanjaar ’n veldtog van stapel gestuur om bewustheid oor plaasaanvalle en -moorde te bevorder en het gevra dat Ramaphosa sy uitspraak daaroor moet terugtrek, asook vir mense in landelike gebiede om moet verskoning vra.

“Hy het nou eers, ná die vloedgolf van woede, gereageer. Hy het na die moord op mnr. Brendin Horner verwys, maar het vergeet om die honderde ander in te sluit wat in ons land vermoor is sedert hy voorkoms van plaasmoorde ontken het.

“En dan sê hy nog dat Brendin se dood ons almal moet ontstel en kwaad maak. In watter land woon hy? Dit kan onmoontlik nie dieselfde een wees waarin ons woon nie – ’n land waar plaasmoorde verheerlik word en boere daagliks as die boosdoeners uitgekryt word nie.”

Kohler Barnard sê Ramaphosa is reg as hy sê die meeste slagoffers van gewelddadige misdade is swart en arm, maar dit is ook waar dat dit vier keer gevaarliker is om op ’n plaas te bly as enige ander plek in die land.

Sy sê die president se kommentaar is ’n geval van te min, te laat. “Hy het nog nooit gewys hy gee om oor boere, plaaswerkers of hul families nie. Hulle verlaat Suid-Afrika vir ander lande wat hulle met ope arms verwelkom. Sedert 1994 het die getal kommersiële boere in Suid-Afrika van 120 000 tot 38 000 afgeneem. Hierdie nuusbrief met sy leë woorde is al wat die president kan bied.”

Sy sê die hele land het geweet die verskyning van Horner se verdagtes in die landdroshof in Senekal sou ’n plofbare situasie geraak het. “Tog het die president en die polisie dit eers besef toe dit te laat was. Teen hierdie agtergrond verkies Ramaphosa om te preek.

“Suid-Afrikaners het nie ’n preek van hul president nodig nie. Hulle soek oplossings. Hulle wil seker wees dat hul president sal verseker dat plaasmoorde ’n prioriteits- en haatmisdaad verklaar moet word. Hulle wil hê dat landelike polisiekantore beter gefinansier moet word sodat boere snags kan slaap pleks van patrollie ry. Hulle het ’n belofte van die president af nodig dat veediefstalsindikate ondersoek sal word.

“Die president behoort sy raadgewers af te dank en ’n paar dae deur te bring saam met diegene wat in vrees leef en werk.”