Meer as 200 plaasaanvalle per jaar is laas in 2002 in Suid-Afrika aangeteken. Die TLU SA sê as die situasie in die tweede helfte van 2013 voortduur soos wat vir die eerste ses maande die geval was, kan meer as 200 aanvalle weer vanjaar aangeteken word.

Altesaam 104 aanvalle en 29 moorde het vanjaar al op die land se plase voorgekom. In 2002 is 229 aanvalle aangeteken. Sedertdien was die meeste aanvalle 184, wat in 2008 voorgekom het.

Wildboer aangeval en vasgebind
In een van die mees onlangse voorvalle is ’n wildboer van Piet Retief in Mpumalanga aangeval en geskiet op die plaas Varkpan. Die 72-jarige mnr. Vic Möhle is erg aangerand en hy is twee keer in sy een been geskiet. Hy is vasgebind aan die hek van sy een wildkamp gevind.

Mnr. Henry Geldenhuys, ondervoorsitter van die TLU SA, sê Möhle het na verwagting erge harsingskudding opgedoen. Möhle het laat op Vrydagmiddag 5 Julie 2013 inspeksie gaan doen by die kamp. Dit was nie vir sy vrou vreemd toe hy vroegaand nie tuis was nie, want hy gaan kuier gereeld by vriende. Teen Saterdagoggend was sy baie bekommerd. Sy het toe hul bure gekontak. Hy is daarna by die kamp gevind.

Möhle se bakkie en selfoon is gesteel. Dit was die derde aanval op ’n plaas in dié omgewing vanjaar, sê Geldenhuys.

Gemeenskap tree op
Intussen het ’n 25-jarige man op Maandag 8 Julie 2013 in die hof op Vryburg in Noordwes verskyn nadat hy verlede week deur die polisie, reserviste en boere in die Piet Plessis-omgewing vasgetrek is. Die man het na bewering verlede week op twee opeenvolgende dae wapens en ander eiendom op twee plase in die omgewing gesteel. ’n Bakkie is ook gesteel.

Luidens ’n verklaring is die boeregemeenskap van die voorvalle in kennis gestel en na 'n soektog is die bakkie gevind. Honde is gebruik om die omgewing te fynkam, waarna die man gevang is. Hy sal oor twee weke weer in die hof verskyn.