Die veldtog is begin nadat daar die afgelope maand weer ’n skerp toename in plaasmoorde was. In Junie 2020 was daar 40 plaasaanvalle en vyf moorde en in Julie 2020 was daar reeds 15 plaasaanvalle en vier plaasmoorde.

Tien praktiese stappe wat die regering behoort te doen om plaasmoorde doeltreffend te bekamp, word in dié brief uiteengesit.

Om die veldtog te begin, het AfriForum vandag ’n kort dokumentêr bekend gestel oor die moorde op Attie (40), Wilna (36) en klein Wilmien (2) Potgieter naby Lindley in Desember 2010.

Mnr. Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê AfriForum vra nie vir spesiale behandeling ten opsigte van plaasaanvalle nie, maar eerder dat dit met dieselfde erns as ander misdade hanteer word.

“Die Suid-Afrikaanse regering het geen probleem daarmee om gekonsentreerde strategieë te ontwikkel om verskeie misdade te bekamp nie. Dit sluit in geweld teen vroue en kinders, bendeverwante geweld, koperkabeldiefstal, transitorooftogte en renosterstropery, om maar ’n paar te noem.

“Dit is slegs in die geval van plaasmoorde dat ons skielik te doen kry met, in die ergste geval, kabinetslede wat dié misdade regverdig, of ten beste die bestaan van die krisis as iets onbelangriks afmaak.”

Volgens mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid, laat die wet oorgenoeg ruimte vir wetsgehoorsame burgers om hulself te beskerm. “Dié reg moet eenvoudig opgeneem en gebruik word. Dit is hoog tyd dat elke wetsgehoorsame burger wat in ’n landelike gebied werk en woon, hulself binne die raamwerk van die wet bewapen.

“Elkeen moet weet wanneer hulle mag skiet, en moet in staat wees om hulself, hul gesinne, bure en gemeenskap te beskerm. Bewapen jouself en leer jou wapen ken.”

Cameron sê die toename in plaasaanvalle sal waarskynlik nie afneem nie. “Die regering het landelike gemeenskappe tot nou in die steek gelaat. Ons moet onsself organiseer en proaktief optree om aanvalle af te weer.”

Volgens dr. Theo De Jager, Saai se direksievoorsitter, het plaasaanvalle en -moorde ’n kritieke punt bereik. “Buitelandse regerings, multilaterale instellings en die internasionale media vra toenemend moeiliker vrae daaroor. Geen oplossing is moontlik voordat die regering erken dat plaasaanvalle en -moorde ’n probleem is wat Suid-Afrika in die gesig staar nie.”

De Jager sê die regering se reaksie moet begin met ’n formele, onafhanklike ondersoek na die faktore, aard en oorsprong van, asook die politiek-sosiale omgewing waarin die verskynsel van plaasaanvalle voorkom, en die skep van ’n spesiale multidepartementele eenheid om dié probleem die hoof te bied. 

“Dis te wyte aan veral die regering se houding jeens die heersende situasie dat daar geen ander keuse vir weerlose plaasgemeenskappe is as om hulself te bewapen, hul waaksaamheid op te skerp en hulself in goed georganiseerde plaaslike plaaspatrollies te organiseer om hulself en mekaar in geval van nood te help nie.” 

Kyk die dokumentêr hier: https://www.youtube.com/watch?v=NdsYudRX99U