Só sluit dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbounetwerkorganisasie Saai, sy ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa af. Hy het dié brief geskryf na aanleiding van Ramaphosa se jongste nuusbrief waarin hy hom oor plaasmoorde uitlaat.

De Jager sê in sy ope brief die meeste boere stem nie saam met Ramaphosa se standpunte in sy nuusbrief of die aannames waarop dit gegrond is nie.

“Die plofbare polarisering van Suid-Afrika se gemeenskap is deur nóg ’n plaasmoord aan die brand gesteek. Boere, hul vriende en dié wat met hulle simpatiseer, ruk ál meer op om te betoog teen dié wreedaardige verskynsel, wat deur u regering ontken, afgeskeep of selfs aangevuur word.

“Van oral oor die land kom hulle byeen om hul eer te betoon en deel te hê in die leed van die slagoffers en hul geliefdes. Maar hulle kom ook byeen om hul teleurstelling uit te spreek oor die giftige omgewing wat die ANC geskep het en waarin dié verskynsel gedy. Hul woede en frustrasie het kookpunt bereik – soos in Senekal gesien is. Hulle kom byeen om te eis dat plaasaanvalle (gemiddeld een elke twee dae) en die wreedaardige moorde (gemiddeld een elke vyf dae) stopgesit word. 

“Die EFF en faksies in die ANC – waaronder u Jeugliga – dreig om hulle te konfronteer en ten gunste van plaasmoorde te betoog. U Jeugliga is gister (Sondag) op die voorblad van die Sunday Independent aangehaal dat hulle ’n oorlog teen boere wil begin, wat hulle vir die dood van Solomon Mahlangu en Chris Hani blameer. Ons moet nog u reaksie hierop hoor – of die reaksie van enige ander ANC-leier.

“U vergelyk plaasmoorde met die moorde op Mogamad Cloete, Tawqeer Essop en André Bennett, drie jong mans wat in dieselfde week in Delft in die Wes-Kaap doodgeskiet is. Dit is ewe tragies, ja, maar dit is waar die vergelyking eindig.”

De Jager sê daar is drie aspekte in die besonder wat plaasmoorde van ander moorde onderskei. 

“Eerstens, niemand vra in die openbaar dat township- of bendemoorde gepleeg word nie. Daar is geen populistiese wekroep om stedelike moorde te pleeg nie. Daar is geen doelbewuste skep van ’n politieke klimaat wat dit aanmoedig nie, wat wel die geval met plaasmoorde is. Plaasmoorde het gevolg op die ANC, sy leiers en sy Jeugliga se gesing van ‘Umshini wam’ (bring my masjiengeweer) en ‘Kill the farmer, kill the boer’, wat die EFF intussen oorgeërf het. Het u al die twiets en Facebook-plasings gesien van masjiengewere en pangas met verwysing na die verwagte botsing op Senekal?

“Belangriker, het u regering enigiets gedoen om dit te probeer keer? Nee, eerder die teenoorgestelde. Luister gerus weer na minister Bheki Cele se oorval op die toneel waar die Rafferty-paar twee weke gelede by Normandien vermoor is, toe hy gewaarsku het dat boere nie moet huil as hulle seerkry nie. Dít in antwoord op ’n eenvoudige vraag wat boere te doen staan as vee in hul landery ingejaag word om hul oeste te vernietig.”

De Jager sê die bron van wantroue waarna Ramaphosa verwys, is in sy eie kabinet.

Die tweede aspek wat volgens De Jager plaasmoorde van ander moorde onderskei, is dat inbrake en stedelike moorde nie met dieselfde vlak van wreedheid gepleeg word nie. “Kinders word nie gedwing om toe te kyk as hul ma’s verkrag word nie. Hul oë word nie uitgesteek nie. Hul oumas word nie vermink deur hul knieë met staalbore te deurboor nie. Op 4 Junie 2019 het AfriForum met skokkende syfers aangetoon dat niks in bykans die helfte van dié onmenslike gevalle van geweld gesteel word nie. Dit is moord bloot vir die pret daarvan.

“Derdens, ná townshipmoorde volg geen oorverdowende applous nie, veral nie op sosiale media nie. Honderde Twitter-rekeninge, met of sonder skuilname, verwelkom elke melding van nóg ’n grusame marteling of moordtoneel, en moedig méér aan – sonder gevolge. Wetstoepassingsinstellings blyk geen voorneme, vermoë of wil te hê om enigiets daaraan te doen nie. 

“Nee, daar is geen manier waarop u ons of die wêreld gaan oortuig dat plaasmoorde maar net uitvloeisels van ’n algemene etos van geweld of moord is wat die land oorspoel nie.”

De Jager sê Ramaphosa moet erken dat plaasmoorde ’n probleem is, anders sal daar nooit ’n oplossing daarvoor gevind kan word nie. Hy sê dat Ramaphosa ook bereid moet wees om in te gryp.

“U moet dringende vergaderings hou met meer as net daardie landboustrukture wat u lof besing of u standpunte oor plaasaanvalle ondersteun. U moet ook skakel met daardie netwerke en burgerregte-organisasies, soos Saai, AfriForum, die Solidariteit-beweging en die Instituut vir Rasseverhoudinge, wat namens boere praat en hul standpunte, frustrasies en woede lug.

“U moet die situasie nóú ontlont, terwyl dit nog moontlik is. Doen dit voordat dit verder versleg.”

De Jager sê wat nou noodsaaklik is, is optrede. “ ’n Spesialiseenheid moet in die lewe geroep word om deur middel van intelligensieskakeling voorkomend op te tree. Dit is onvergeeflik dat daar ná 15 jaar nog geen vordering gemaak is met die polisie se onderneming om ’n reservistemag op die been te bring ná die afskaffing van die kommando’s nie.”

Hy sê ’n klein, maar beduidende stap sal wees om op te hou om boere te ontwapen wat van die amnestietydperk vir die hernuwing van vuurwapenlisensies gebruik wil maak.

“Die meeste van hulle het die afsnydatum misgeloop weens swak dienslewering deur landelike polisiekantore. Dit laat boere kwesbaar in die ergste moontlike tyd en in die ergste moontlike toestande nóg. Daar is geen logiese rede hiervoor nie. Só ’n besluit sal ten minste bydrae tot redelikheid en ’n gevoel van begrip van u kant af. U het dit nodig.”