Gemeet aan internasionale norme kan plaasmoorde in Suid-Afrika met reg as 'n volksmoord bestempel word, en die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie moet die ANC-regering nou dwing om dringende stappe te neem om dit stop te sit.

Dit is een van die dringende versoeke wat 'n afvaardiging van die VF Plus hierdie week in twee mosies aan die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) in Brussels, België, voorlê, luidens ‘n nuusverklaring van die VF Plus.

Naas 'n voorlegging oor plaasaanvalle en plaasmoorde, sou die VF Plus die organisasie ook vra om kennis te neem van die vertrapping en stelselmatige uitwissing van Afrikaans veral in die onderwysstelsel, wat basiese en hoër onderrig insluit.

Dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus, en mnr. Wouters Wessels, nasionale jeugleier, is tot Vrydag, 3 Julie, in Brussels waar hulle UNPO volledig oor hierdie aangeleenthede sal inlig.

Hierdie jongste optrede van die VF Plus volg op 'n besoek van sy leier, dr. Pieter Mulder, einde 2014 aan UNPO en die VN in Genève, waar die internasionale gemeenskap ook ingelig is oor plaasmoorde, Afrikaans, regstellende aksie en ander vergrype teen minderhede in die land.

In November 2013 het die VF Plus in samewerking met UNPO 'n internasionale konferensie by die parlement in Kaapstad aangebied waar groepsregte en selfbeskikking onder meer bespreek is. Bekendes in akademiese kringe, asook verskeie vooraanstaande leiers in die bruin en Khoisan-gemeenskappe, het die suksesvolle konferensie bygewoon.