Vier jaar gelede het Weys van die plaasmoord gelees en hoe mense van dié omgewing die dag ná die moord die misdaadtoneel skoongemaak het. “Dit was vir my ontsettend aangrypend: die idee dat mense bereid was om só iets vir hul naaste te doen. Ek het met die twee vroue gaan gesels wat die toneel skoongemaak het. ’n Draaiboek genaamd Plaashuis het uit daardie gesprekke ontwikkel.”

’n Span is intussen gevorm om die kortfilm te vervaardig, met die akteurs Martelize Kolver, Nicola Hanekom en Albert Pretorius wat die hoofrolle vertolk.

Die narratief van die draaiboek is ’n samevoeging van onderhoude wat Weys met werklike slagoffers gevoer het, mense wat sulke tonele uit ’n verantwoordelikheid teenoor hul medemens opgeruim het, asook verdere navorsing oor hoe moordtonele lyk en hoe dit skoongemaak word.

“Plaashuis is dus nie ’n dokumentêr nie, maar ’n fiktiewe verhaal wat deur werklike gebeure by Ficksburg geïnspireer is, waar inwoners van die dorp die verantwoordelikheid vir die skoonmaak van die plaashuis op hulself geneem het sodat dit nie aan die slagoffers oorgelaat word wanneer hulle van die hospitaal af terugkeer nie.”

Weys, wie se meestersgraad in filmstudies aan die Universiteit van Kaapstad gekonsentreer het op etiese rolprentvervaardiging en hoe om gewelddadige of sensitiewe kwessies op ’n verantwoordelike wyse aan te pak, sê hy besef plaasmoorde is só ’n onderwerp.

“Dit is nie my voorneme om aan gehore voor te skryf hoe hulle oor hierdie komplekse kwessie moet dink nie. Pleks daarvan rig die kortfilm vrae aan gehore waarmee ek self ook worstel: Wat behels my verantwoordelikheid teenoor my medemens, veral nadat geweld plaasgevind het? Wat word van my verwag wanneer my naaste swaarkry of seergekry het? Hierdie voorneme het my aanslag bepaal.”

Hy wil ook by die gehoor uitvind wat húlle van 'n onderwerp dink, sonder om voorskriftelik te wees.

“Plaasmoorde is natuurlik ’n ernstige kwessie en daarom probeer hierdie kortfilm se invalshoek om gehore tot besinning en nadenke aan te moedig. Nadat die kortfilm vervaardig is, sal dit dadelik aanlyn beskikbaar gestel word.

“Die kortfilm het ten doel om gehore aan te moedig om self te besluit wat hulle van die onderwerp dink en, hopelik, sal die kortfilm ’n waardevolle bydrae lewer tot die komplekse gesprek oor plaasmoorde.”

Die finansiering van die projek word deur middel van skarefinansiering behartig, omdat Weys agtergekom het tradisionele film-finansieringsinstellings wil nie by die sensitiewe en verpolitiseerde kwessie van plaasmoorde betrokke raak nie.

“Aangesien daar ten volle op skenkings staatgemaak word, nooi die filmspan dus die publiek uit om die projek finansieel te ondersteun. Dit is risiko-vry: As die kortfilm as gevolg van onvoorsiene omstandighede nie vervaardig word nie, sal alle skenkings terugbetaal word. Met ander woorde, óf jy dra by en die kortfilm word gemaak óf die kortfilm word nie gemaak nie en jy ontvang jou geld terug.”

Bydraes kan op Thundafund, Afrika se grootste platform vir skarefinansieringsprojekte, gemaak word by www.thundafund.com/project/plaashuis-kortfilm/.

Besoek Plaashuis se webwerf by www.plaashuis-kortfilm.com of Facebook-blad by www.facebook.com/plaashuiskortfilm/ vir nog inligting.