Ramaphosa het in September in ’n onderhoud met Bloomberg by die Verenigde Nasies in New York gesê dat daar “geen moord op boere” in Suid-Afrika plaasvind nie. Die stelling is gemaak in reaksie op ’n vraag wat aan hom gestel is oor die Amerikaanse president Donald Trump se vroeëre twiet.

Hy in ’n vraag-en-antwoordsessie in die Parlement gesê baie mense het nie mooi verstaan wat hy vroeër gesê het nie. “Ek het gereageer op pres. Trump se twiet waarin hy gesê het wit boere en wit mense word vermoor. Ek het gesê nee . . . dis nie waar nie.”

Ramaphosa sê hy het verwys na die feit dat wit boere én swart mense op plase vermoor word. “Dit is die werklikheid waarin ons leef. Die aantal moorde in ons land kwel my en behoort ons almal te kwel. Ek sal dit nooit kategoriseer as net wit moorde nie. Mense van alle rasse word in die land vermoor. Ek moet totaal nie-rassig wees as ek daaroor reageer.”

Ramaphosa se verduideliking het gevolg nadat dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, hom gevra het om te erken dat wit boere wel vermoor word. Groenewald het gesê dit is onwaar om te sê wit boere word nie vermoor nie. Hy het verder gevra of Ramaphosa bereid is om die families en geliefdes van die wit boere wat in Suid-Afrika vermoor is, te kontak en om verskoning te vra omdat hy die moorde ontken het, asook om sodoende erkenning te gee aan dié mense se leed.

Teleurstellend

Ramaphosa het gesê dat hy al ná plaasmoorde die families van slagoffers, wit en swart, gebel het om te simpatiseer. Hy as president moet optree as ’n nasiebouer.

“Ek sal aan hulle verduidelik, want wat pres. Trump in sy twiet geskryf het, was nie die waarheid nie.”

Groenewald meen egter Ramaphosa het met woorde gespeel toe hy die kwessie probeer verduidelik. “Daar is geen manier hoe die president nou sy kategoriese ontkenning dat wit boere vermoor word, ongedaan kan maak nie.

“Voor Trump en die wêreld ontken hy dit. Hier erken hy dit deur te sê hy het selfs van die slagoffers se naasbestaandes gebel.”

Volgens Groenewald is hierdie optrede van Ramaphosa uiters teleurstellend en is dit allermins bevorderlik vir nasiebou, soos hy wil voorgee.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.