Volgens die organisasie het hy 70 moorde op sy databasis geregistreer, wat 13% meer is as die amptelike syfer. Hierdie verskil, asook die noodsaaklikheid om uit een mond te praat oor ’n onderwerp wat toenemende internasionale aandag trek, vereis konsolidasie, sê die organisasie in ’n verklaring.

Die organisasie sê hy het etlike pogings aangewend om ’n afspraak met mnr. Bheki Cele, Minister van Polisie, te maak ten einde hierdie verskil en ander verbandhoudende kwessies met hom te bespreek, maar sonder konstruktiewe reaksie.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, sê dit is noodsaaklik dat hierdie kwessie gesamentlike en geïntegreerde optrede kry. Met dit in gedagte is ’n nasionale landbouveiligeidstrategie ter ondersteuning van die polisie se landelike veiligheidstrategie geformuleer, deur Asuf goedgekeur en gevolglik toegepas.

“Ek vertrou dat die Minister van Polisie en die Kommissaris van Polisie sal besef dat die voortgesette en gewelddadige aanslag teen boere, hul families en plaasbewoners ’n  toegewyde en verenigde poging verg om sodoende ’n veilige omgewing te skep vir afgesonderde gemeenskappe wat vir voedselsekerheid in Suid-Afrika verantwoordelik is.”