Plaaswerkers kán bo hulle omstandighede uitstyg en ’n beter toekoms vir hulle en hulle gesinne skep, glo me. Rita Andreas, stigter van die Nasionale Plaaswerkersforum. Op die Kaap Agriweek by Kleinplasie in Worcester het sy werkers aangemoedig om hul toekoms in eie hande te neem.

Andreas is moeg vir onkundige nasionale landbouministers wat elkeen sy hopie grond in die landbou-enjin agterlaat en wil nou self eendag landbouminister word.

Andreas, ’n voormalige plaaswerker en tans burgemeesterkomiteelid vir landelike ontwikkeling by die Drakenstein-munisipaliteit in die Wes-Kaap, glo kommunikasie en ’n goeie werkverhouding tussen boer en werker is ’n goeie basis is om die landbou vorentoe te neem.

Die plaaswerkerstakings van 2011

Ná die geweldadige plaaswerkerstakings van 2011 in die Heksriviervallei – wat onder die vaandel van ’n loondispuut uitgebreek het – het Andreas ’n plaaswerkersforum gestig om ’n stem aan plaaswerkers te verleen. “Hulle is moeg vir mense wat niks van hul omstandighede af weet nie, maar wat namens hulle wil praat.”

Andreas meen die verskeie wette wat ná 1994 tot stand gebring is, het die verhouding tussen werker en werkgewer versuur. “Wetgewing het ingekom dat dit nie reg is om net iemand se goed (geld) te vat soos jy wil nie, maar wetgewing het ons ook bang gemaak vir mekaar en ons weggedryf van mekaar.”

’n Voorbeeld wat sy gereeld gebruik om só ’n situasie te verduidelik is van wanneer haar oupa geld nodig gehad het om vir haar skoolbenodighede te koop, kon hy by sy werkgewer om hulp aanklop. Aan die einde van die maand, wanneer die eienaar die geld wat hy geleen het aftrek, het haar oupa nie teruggegaan en hom daaroor aangevat nie. “Hy het mos die geld geleen en moet dit terug gee."

Eienaars is nou bang

“Vandag is eienaars bang om vir ons mense iets te doen, want dit lei tot onsmaaklike dispute,” sê sy.

“Ek weet wat ons in die landbou nodig het. Ek was in die wingerd, ek was in die boorde, ek het gesnoei. Ek glo ek kan ’n verskil maak.”

Andreas wil as landbouminister dit by die landbougemeenskap laat insink dat behalwe harde werk, dit belangrik is dat die verhouding tussen boer en werker só versterk word dat hulle “een liggaam” is wat kos op Suid-Afrika se tafel kan sit.

Herstel verhoudinge

“Kom ons herstel daardie verhouding dat ons weer vrylik met mekaar kan praat en weer vir mekaar daar kan wees, want in die landbou het ons mekaar nodig.”

Sy meen ook dat meer moeite nodig is om swart bemagtigingsgroepe in die landbou te help om marktoegang vir hul produkte te kry.

Andreas, wat op die plaas Lelienfontein, Wellington, gebore is en later algemene werker in die wingerd by die Bosmanboerdery was, is ook deel van die Bosman-Adama-aandeelhouding van dié betrokke boerdery.

Dié boerdery is bekend vir sy wingerdstokke en wyn. Die boerdery het 430 permanente werkers en Andreas glo die sukses van hierdie aandeelskema is te danke aan die goeie kommunikasie wat tussen die eienaars en werkers bestaan.