Dié invoer kan help om in die tekort in die mark te voorsien wat deur voëlgriep veroorsaak is. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het in 'n verklaring gesê die protokol gaan onderhandel word met bestaande handelsvennote wat as vry van hoogs aansteeklike voëlgriep erken word.

Dr. Ziyanda Majokweni, direkteur van die agentskap vir die bestuur van pluimveesiektes (PDMA), sê daar is bepaalde kriteria waaraan invoerlande se teeltroppe sal moet voldoen, soos gereelde besoeke deur staatsveeartse.

Dié invoer sal 'n korttermynmaatreël wees, om te verseker dat die bedryf in die mark se vraag na pluimveeprodukte kan voorsien, sê sy. Van die moontlike invoerlande is Brasilië, Ierland en Amerika.

Riglyne vir vergoeding

Die departement sê hy is steeds besig met die opstel van riglyne waarin die beginsels van vergoeding vir boere wat deur voëlgriep geraak is, duidelik uiteengesit sal word. 

“Dit is belangrik om kennis te neem dat vergoeding volgens die diskresie van die Minister (mnr. Senzeni Zokwana) geskied en net betaalbaar is vir verliese weens die vernietiging van gesonde voëls en eiers in 'n poging om die siekte uit te wis. Vergoeding kragtens die Wet op Dieresiektes is nie 'n boere-ondersteuningsinisiatief nie en moet nie met sulke inisiatiewe verwar word nie,” sê die departement.

Majokweni sê vergoeding is 'n noodsaaklike instrument in siektebeheer, veral waar siek diere, of diere wat die risiko loop om siek te word, van kant gemaak moet word. Vergoeding bevorder vroeë opsporing en aanmelding.

Aanmelding is 'n goeie en etiese praktyk, want die gevolge om dit nie te doen nie, is verreikend. Boere bly egter kragtens wetgewing verplig om beheerde siektes aan te meld, ongeag of 'n aansporings- of vergoedingskema bestaan, sê Majokweni.

Die moontlikheid van inenting, spesifiek langer lewende voëls van hoë waarde, soos teelhoenders en kommersiële lêhenne, word steeds ondersoek. Volgens die departement kan so 'n maatreël dalk die gevolge vanvoëlgriep verminder, maar  'n nadelige invloed op handel hê.”

Die departement sê daar word ook gesprek gevoer oor 'n strategie om inenting te staak wanneer die bedreiging verby is.

Wes-Kaap die swaarste getref 

Teen 23 Oktober was daar 92 bevestigde uitbrekings in die land, waarvan die meeste, naamlik 61, in die Wes-Kaap was. In Mpumalanga was daar 11, in Gauteng 13, in Noordwes, die Vrystaat en die Oos-Kaap elk twee, en in KwaZulu-Natal een.

Majokweni sê daar is beslis nou 'n daling te sien in die getal uitbrekings by kommersiële besighede. In die noordelike dele van die land was daar weke laas 'n aanmelding terwyl die getal aanmeldings in die Wes-Kaap gedaal het. “Dit is baie bemoedigend.”

Sy sê boerderye van verskillende groottes is geraak en die invloed was erger op die kleiner tot mediumgrootte produsente.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) gevra om die koste-implikasies vir produsente te ondersoek, beide regstreekse koste om uitbrekings op plase te bestuur, en die koste van verlore produksie.

Die BFAP sal ook verskillende toekomstige scenario’s beoordeel, insluitend die mark- en handelsverwante implikasies van inenting. Die verslae word oor sowat twee maande verwag.