'n Reeks soet draakvrugkultivars onder die handelsnaam, Amorentia Sweet Dragon Fruit, is nou beskikbaar vir voornemende produsente van hierdie besonderse kaktusvrug in Suid-Afrika.

Mnr. Howard Blight en sy span van Amorentia Kwekery het die nuwe kultivars onlangs by 'n geselligheid vir 'n groep uitgelese gaste in Tzaneen bekendgestel.

Minder as 20 ha draakvrug is tans in Suid-Afrika aangeplant en ten spyte van hierdie vrugte se vaal smaak verkoop dit op die plaaslike mark teen omtrent R50 per kilogram. Die elf Amorentia kultivars se vleis wissel van wit tot wynrooi en byna pers en gaste kon tydens die bekendstelling proe hoe soet dit is.

Vennootskap

Amorentia gaan aanvanklik net genoeg plantmateriaal vir 1000 ha beskikbaar stel en dit sal op 'n vennootskapbasis tussen Amorentia en die produsente bemark word. Plantregte sal R50 000 per hektaar beloop waarvan 10% in 'n bemarkingsmaatskappy gestort sal word. Amorentia en produsente sal gelyke aandele in die bemarkingsmaatskappy hou. "Daar sal aanvanklik 2 000 aandele geregistreer word en vir elke hektaar wat gekoop word kry die produsent een aandeel en Amorentia Kwekery kry een aandeel," sê Blight.

'n Gesonde vraag bestaan na draakvrugte in die verre ooste met Viëtnam as die wêreld se grootste produsent. Blight glo egter dat dié vrug, wat in 2013 supervrugstatus gekry het, baie gewild in westerse markte kan raak. "Met die regte bemarking kan hierdie subtropiese gewas die perfekte aanvulling tot enige boerdery se produksiemandjie word," sê Blight.

Byskrif: Mnr. Howard Blight van Amorentia-kwekery wat die nuwe soet draakvrug kultivars onder die handelsnaam Amorentia Sweet Dragon Fruit bemark. Foto: Jasper Raats

Draakvrugte-jasper-raats-300