Mnr. Louis Meintjes, voorsitter, het op ’n gesamentlike nuuskonferensie van TLU SA, AfriForum en Sakeliga (voorheen AfriSake) gesê hy verwag dat die Regering in aanvanklike toetssake minder as markwaarde vir plase gaan bied, maar dit later sal opvolg met toetssake waar hy geen vergoeding sal aanbied nie.

Die drie organisasies gaan saam ’n regstrategie vir teenkanting van die Regering se beoogde onteiening sonder vergoeding ontwikkel en het ander organisasies genooi om daarby aan te sluit.

Dit volg nadat AfriForum die afgelope naweek ’n lys van plase bekend gemaak het wat volgens die organisasie vir toetssake geoormerk is. Die lys doen glo die ronde in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake.

Die organisasies hou voet by stuk dat die lys, wat AfriForum sê hy by ’n gesaghebbende bron gekry het, outentiek is.

AfriForum sê ook die oorspronklike lys bevat meer inligting. Hy het die formaat verander en van die inligting uitgehaal om eienaars te beskerm.

“Hulle (die Regering) sal die lys dalk verander, dit sal dalk ’n kleiner lys wees,” het mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Mnr. Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het gesê daar is by hom geen twyfel dat daar ’n lys is nie. “Daar is waarskynlik selfs meer as een lys.”

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het gister (Dinsdag) in ’n verklaring gesê sy ontleders het die lys gesien en glo dit is geloofwaardig.

TLU SA bestudeer lys

Volgens Meintjes werk TLU SA deur die lys om meer inligting oor die plase te kry en hoop om dié proses volgende week af te handel.

Tot dusver wys die inligting volgens hom dat die lys outentiek is. Dit bevat onder meer plase met grondeise waar die eienaar en Regering nie oor die prys ooreen kan kom nie. Daar is ook ’n plaas waar die boer ’n uitsettingsbevel ontvang het en waar die Regering klaarblyklik die plaas vir die minerale regte wil bekom.

Kriel het by navraag gesê die meeste eiendomme op die lys voldoen aan kategorieë soos wat die departement dit onlangs aan Landbou.com verduidelik het, naamlik grond wat die departement ingevolge verskeie programme wil aankoop, maar die eienaars wil nie die grondwaardeerder-generaal se waardasie aanvaar nie. (Lees dié artikel hier.)

Op ’n vraag of daar verbande op die plase is, het Meintjes gesê in dié stadium lyk dit wel in die meeste gevalle so. “Daar is nie vandag boere wat nie verbande op hul plase het nie.”

Hy het later aan Landbou.com gesê tot dusver klop die soort plase op die lys glad nie met beloftes deur die ANC en Regering dat onteiening sonder vergoeding vir onproduktiewe grond gebruik sal word, of grond waar die eienaar afwesig is nie. “Op die oog af lyk dit almal na plase wat in produksie is.”

Die IRV sê die lys, asook uitlatings deur amptenare en ANC-lede, dui daarop dat hoëwaarde- en produktiewe eiendomme voorkeur sal kry.

“Dit verskil – soos die IRV lank reeds waarsku – van versekerings deur die regerende party en regeringsleiers dat net onproduktiewe grond onteien sal word.”

Meintjes sê wanneer die drie organisasies regstappe doen, “sal ons wil weet hoekom ’n betrokke plaas gekies is. As die Regering onteiening sonder vergoeding wil toepas, moet hy kan sê hoekom hy die grond gekies het.” 

Zokwana loof Agri SA

Agri SA het vroeër AfriForum se bekendmaking van die lys as onverantwoordelik beskryf en gesê ingevolge huidige wetgewing kan onteiening nie sonder vergoeding plaasvind nie.

Kriel se reaksie hierop was dat AfriForum nie by moddergooiery met Agri SA betrokke gaan raak nie. Baie van sy lede is boere en ook lede van Agri SA.

Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het Agri SA oor sy kritiek op AfriForum gelukgewens.

Volgens hom spits AfriForum hom toe op die stigmatisering van die huidige parlementêre proses oor onteiening sonder vergoeding.

Zokwana het benadruk dat die proses rakende die wysiging van artikel 25 en die hervormingsproses nie voedselsekerheid en die landbousektor as kritieke ekonomiese bydraer sal ondermyn nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.