Hy het op VL se protessaamtrek op Hennenman gesê as diegene wat geregtigheid moet laat geskied, self steel, is dit logies dat hulle sal wegkyk wanneer diegene wat geweld pleeg, mense aanval.

Die saamtrek is gereël na aanleiding van die verdagtes wat vir die moorde van mnre. Pieter en Eddie Hills in die dorp se landdroshof verskyn het.

“Elke boer én plaaswerker verstaan dat hulle mekaar nodig het. Die stad het die produsent en sy werkers nodig. Daarom mag ons nie toelaat dat goedkoop politiekery ons verdeel nie,” het hy gesê.

Volgens Esterhuyse word die landbougemeenskap van rassisme beskuldig wanneer beskerming teen plaasaanvalle gevra en optrede teen korrupte wetstoepassers geëis word. “Ons regmatige versoeke word as rassisme uitgebeeld, terwyl ander se rassisme as regmatige politiek aanvaar word.”

Hy het gesê meningsvormers se uitsprake dat plaasmoorde nie anders as ander moorde is nie, leiers wat die uitwerking daarvan op werkers oor die hoof sien en boere as gronddiewe uitkryt, verdeel, versaak en vervreem die gemeenskap.

Volgens VL se statistieke is 27 moorde van 1 April 2016 tot 31 Maart 2020 op plase en kleinhoewes in die Vrystaat aangeteken, met 8 kommersiële boere, 2 opkomende boere, 11 werkers en 6 bewoners van plase en kleinhoewes wat vermoor is. In die meeste gevalle was twee of drie aanvallers betrokke. Vuurwapens is in 59,26% van die gevalle gebruik. Kontant, selfone, vuurwapens en voertuie word meestal gebuit.

Brandpunte ten opsigte van plaasmoorde in die tydperk is Ladybrand waar vier plaasmoorde plaasgevind het, Bloemfontein (Bloemspruit-hoewegebied met drie), Harrismith en Vredefort met twee plaasmoorde elk. Sewentien Vrystaatse boerderygemeenskappe het elk ’n plaasmoord beleef in dié tydperk.

Altesaam 10 plaasmoorde het in die sewe maande van 1 April tot 10 November 2020 in die Vrystaat plaasgevind. In die vorige boekjaar (2019) was daar ses plaasmoorde. VL se statistieke dui dus op ’n toename van vier moorde (40%). 

plaasaanvalle kaart Vrystaat Landbou
Bron: Vrystaat Landbou