Groter plaaslike produksie en beter beheer van invoer is saam met die bevordering van uitvoer deel van die doelwitte van die pluimveemeesterplan wat die regering, die hoenderbedryf, vakbonde en invoerders in November verlede jaar onderteken het.

Die departement van handel, nywerheid en mededinging het bekend gemaak dat plaaslike produsente, volgens syfers van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), in die eerste agt maande van vanjaar ondanks die Covid-19-pandemie 5% meer hoendervleis geproduseer het as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die departement sê die SAPV het die jongste syfers oor produksiegroei op ’n vergadering van ’n pluimvee-oorsigkomitee verskaf waar mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, en me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, medevoorsitters was.

Pluimveeprodusente het as deel van die meesterplan onderneem om R1,7 miljard aan uitbreiding en verbetering van produksiekapasiteit te bestee. Van die beleggingsprojekte is reeds voltooi, insluitend die uitbreiding van broeihuise en verwerkingsaanlegte, en 428 werkgeleenthede is geskep.

Verder is ’n finansieringsmodel vir kontrakboere ontwikkel om te help om produsente se sakehaalbaarheid en winsgewendheid te beoordeel.

Invoer val

Die departement sê sedert die meesterplan onderteken is, het die regering hoër invoertariewe op sekere snitte ingestel en ’n ondersoek na die tariefstruktuur begin om ’n doeltreffender handelsomgewing vir pluimvee te voorsien.

Die departement se verklaring is in dieselfde week uitgereik as wat die SAPV se jongste invoerverslag beskikbaar gestel is.

Hiervolgens is 30,1% minder hoendervleis in Julie vanjaar vergeleke met Julie verlede jaar ingevoer. Die hoeveelheid in Julie was ook 2,6% minder as in Junie vanjaar.

Die hoeveelheid stukke aan die been wat in Julie ingevoer is, was 46,9% minder as in Julie verlede jaar en 12,1% minder as in Junie vanjaar.

Die SAPV het vroeër gesê die verswakking in die rand speel saam met hoër invoertariewe ’n groot rol in die afname in invoer, omdat dit ingevoerde hoendervleis duurder maak.

Uitvoer

Die departement sê die doelwitte van die meesterplan wentel om die verhoging van die plaaslike vraag na hoendervleis, terwyl die uitvoer van plaaslik geproduseerde gekookte en rou hoenderprodukte aandag moet kry.

Die bedryf het onder meer Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Katar as voorranglande vir uitvoer uitgewys en sal ook markte binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Afrika-vryehandelsgebied en die Midde-Ooste probeer ontwikkel.

Die departement sê daar is saam met handelsvennote werk gedoen om Suid-Afrika se voldoening aan sanitêre en fitosanitêre maatreëls te verbeter, wat verdere uitvoermarkte sal ontsluit.