Boonop koop 'n buitelandse belegger nóg byna 'n derde.

Die genoteerde Quantum, wat met sy handelsmerk Nulaid die land se grootste en enigste nasionale eierprodusent is, se aandeelprys het in 'n paar weke verdubbel en het op 10 Julie op sowat R7/aandeel afgesluit.

Quantum produseer benewens eiers onder meer ook lewende braaihoenders vir slagplase en voer onder die handelsmerk Nova Feeds en het bedrywighede in Zambië, Mosambiek en Uganda.

Country Bird Holdings (CBH), wat ten opsigte van braaihoenders en voer met Quantum meeding, het in Junie teen R5/aandeel 'n belang van 30,81% in Quantum bekom toe die landboubeleggingsmaatskappy Zeder sy belang verkoop het.

CBH wou aanvanklik nóg aandele gekoop het, maar het sy plan laat vaar toe hy hoor dat nóg 'n party, wat toe nog onbekend was, 'n groot hoeveelheid aandele by van Quantum se institusionele beleggers wil koop.

Mnr. Anthony Clark, ontleder van onder meer voedselmaatskappye, het in ’n stadium die gebeure rondom die aandeelhouding as ’n TV-sepie beskryf: “Dit is Dallas, in Wellington.”

Mnr. Hennie Lourens, uitvoerende hoof van Quantum, kon teen druktyd, onder meer weens JSE-reëls, nie kommentaar oor die gebeure lewer nie.

Groot transaksies

Op 8 Julie het die maatskappy Quantum in ‘n Sens-verklaring op die JSE gesê dat mnr. Wouter Hanekom, voorsitter van die Quantum-direksie, byna R16 miljoen se aandele in die maatskappy gekoop het, Lourens byna R3 miljoen s'n, en twee ander bestuurslui ook groot hoeveelhede.

Twee dae later het die maatskappy die naam van die voornemende buitelandse belegger bekend gemaak, naamlik Silverlands II SCSp (stet), 'n fonds gebaseer in Luxemburg, wat deur sy volfiliaal Aristotle Afria S.à.r.l. bindende ooreenkomste met sekere institusionele beleggers gesluit het om sowat 32% van die aandele teen R6/aandeel te bekom.

Die transaksies sou na verwagting in die week van 20 Julie afgehandel word.

Silverlands II is luidens die verklaring 'n fonds wat namens sy beleggers, hoofsaaklik institusionele beleggers, in die landbousektor in Afrika suid van die Sahara belê en word geadviseer deur SilverStreet Capital LLP, 'n Britse beleggingsraadgewer.

Laasgenoemde is volgens sy webblad betrokke by landboubeleggings in onder meer Suid-Afrika (deur Crookes Brothers), Tanzanië en Zambië.

Sinergieë

Mnr. Marthinus Stander, uitvoerende hoof van CBH, ‘n ongenoteerde maatskappye wat braaihoenders produseer en verwerk en ook voer produseer, het aan Landbouweekblad gesê CBH het 'n groot belang in Quantum gekoop omdat dit goeie sinergieë sal meebring.

“Tafeleiers en hoendervleis is wonderlike proteïene en as eierspesialiste kan Quantum ons help in ons strategie om 'n groot proteïenspeler in Afrika te wees.

“Geografies sluit ons ook goed bymekaar aan. Hulle is sterk in die Wes- tot Oos-Kaap betrokke, waar ons nie is nie.”

Stander sê Quantum het goeie bates en goeie bestuur. “Wanneer daar 'n verkoper is wat 'n wen-wen-prys bied, is dit 'n geleentheid om aan te gryp.”

Oor die potensiaal van die pluimveebedryf sê Stander: “Pluimveeprodukte is gewild, veelsydig en bekostigbaar. Die Covid-19-gebeure dui sterk op die toenemende belangrikheid van voedselsekerheid - lande kan nie op invoer staatmaak om hul burgers te voed nie en dít is veral nie nodig as daar 'n mededingende plaaslike bedryf is nie.