Die Grondwethof het beslis die sowat 300 000 Suid-Afrikaners wat nie hul vuurwapenlisensies betyds hernu het nie, is tegnies in besit van onwettige wapens. Die SAGA raai vuurwapeneienaars aan om te wag op die polisie se reaksie op die uitspraak.

In die uitspraak wat deur regter J. Froneman gelewer is, is bevind artikel 24 en artikel 28 van die Wet op Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) is nie ongrondwetlik nie. Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het verlede jaar die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) gelyk gegee dat dié artikels irrasioneel en vaag is, en dit ongrondwetlik verklaar. Die Grondwethof het die beslissing van die Hooggeregshof ter syde gestel.

Volgens die artikels moet vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het dit by die naaste polisiekantoor inhandig vir vernietiging. Hulle mag aansoek doen om vergoeding.

Wag en kyk wat gebeur

Die SAGA sê in ’n verklaring deur adv. John Welsh, sy regskenner, die organisasie verwag dat die Minister van Polisie of die nasionale polisiekommissaris eersdaags ’n aankondiging sal maak rakende vuurwapenlisensies wat verval het.

Mnr. Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, sê sy organisasie probeer om dringend met die minister oor die saak te praat. Talle van sy lede wat geprobeer het om vuurwapens by polisiekantore reg oor die land in te handig, is glo huis toe gestuur met hul “onwettige” wapens. “Mense sê vir my die polisie weier om die vuurwapens te aanvaar en sê die eienaars moet wag om te hoor wat die polisie moet doen.”

Die SAGA en SA Jagters hoop dat ’n beoogde amnestietydperk ingestel sal word. Volgens die SAGA geld die staande opdrag aan polisielede om nie mense wie se lisensies verval het te vervolg nie totdat daar ’n nuwe opdrag gegee word. “Ons glo dus daar sal binnekort verdere opdrag gegee word,” sê Welsh.

Hy beveel aan dat eienaars hul wapens hou en wag dat ’n amnestie ingestel word. Eienaars wat nie kans sien om te wag nie, kan die vuurwapens by die polisie inhandig vir vernietiging. Omdat die wapens nou onwettig is, mag dit nie verkoop word nie en mag dit nie deur ’n wapensmid onbruikbaar gemaak word nie.

Die prokureur mnr. Martin Hood sê die veiligste uitweg vir vuurwapeneienaars met lisensies wat verval het, is om die vuurwapens by die polisie in te handig vir vernietiging. Die enigste ander hoop is dat die polisie sy beoogde voorstel om amnestie by die parlement sal indien en dat mense dan tyd sal hê om heraansoek te doen om hul lisensies.

In ’n verklaring waarsku Hood mense wat besluit om hul vuurwapens te hou en te wag om te kyk wat gebeur, dat hulle in geen omstandighede vuurwapens waarvan die lisensie verval het, moet gebruik of saam met hulle mag dra nie.

Ou lisensies nog wettig

Mense wat nie ingevolge Wet 60 van 2000 om lisensies aansoek gedoen het nie, maar nog in besit van die vorige wetgewing se groen lisensiekaartjies is, se vuurwapens word nie deur die Grondwethof se uitspraak geraak nie.

Sommige regskenners meen glo mense wie se “nuwe” lisensies verval het, kan hulle beroep op die ou groen lisensies as hulle dit nog het. Camphor en Welsh meen egter dat so ’n argument waarskynlik nie deur ’n hof aanvaar sal word nie. Camphor sê vuurwapeneienaars wat om die sogenoemde wit lisensiekaartjies aansoek gedoen het, het hulself tot die nuwe wetgewing verbind.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.